Select Page

Met al die Wes Kaap Tydrenklubs onder die vaandel van Wes Kaap Tydrenne het die Riebeek Kasteel Tydren ‘n nuwe era van samewerking tussen all betrokke partye ingelei en die voordele was reeds sigbaar in die bemoedigende 24 sterk inskrywingstal wat aangemeld het vir aksie by die Du Vlei Padstal (sedert 27 September bekend as die Hermitake Winery, Deli & Bistro) digby die Porseleinberg pad op die R46. Sentraal geleë as beginpunt – dienspunt – eindpunt.


Met die eerste span 10h00 op die wegspring was daar ses sneltrajekte met ‘n totale afstand van 80.62km wat deelnemers sou beproef alvorens hul weer om 15h02, na ‘n totale afstand van 159.52km die eindpunt bereik. Teoreties natuurlik, want tussen-in gebeur snaakse goed met tydrenmotors en hoewel niemand enigeen teëspoed toewens is die natuur van die sport dat daar ‘n baie dun lyntjie is tussen sukses en teleurstelling.


Groot dank aan die grondeienaars wat die uitdagende roete via Welgevonden, Kloovenberg, Swartdam, Jonkershoek, Malrug, Vlakkenheuwel, Koorlandsdrif, Brakfontein, Knolfontein, PPC, Middelpos, Vlakkerug, Langvlei, Libertas, Dagbreek, Goedertrou, Weltevreden, Nuwerus en De la Gift beskikbaar gestel het. Logistiek ongetwyfeld die mees uitdagende vorm van motorsport om aan te bied met radio amateurs, mediese bystand en tydren beamptes wat gekoördineerd moet saam werk om ‘n suksesvolle tydren te verseker.


Die vriendelikste klomp mense denkbaar – totdat daardie valhelms die ore toedruk, die ligte groen flits en die “ ander ou” beheer oorneem agter die stuurwiel. Natuurlik is daar navigators bestrokke, maar hulle is net daar sodat bestuurders iemand het om te blameer wanneer weer die pad vind na ‘n ligte foutjie of twee. Nee, nie die volle waarheid, want navigators is die gom wat die span bymekaar hou en moet keer dat daardie horings onder beheer gehou word.


Die baie indrukwekkende aanlyn Toeskouersgids verdien komplimente en die enigste teleurstelling is dat nie al die inskrywings die geleentheid benut het om hulself aan die publiek bekend te stel nie. Drie blitsvinnige sneltrajekte moes elkeen twee keer navigeer word met sneltrajekte vier en ses op papier deurslaggewend op sukses met ‘n paar uitdagende instruksies. Padoppervlaktes deurgaans goed, met enkele twee spoor seksies bloot om die spoed binne perke te hou.
Die gebruik van sogenaamde kunsmatige draaie (Chicanes) het net weereens vraagtekens rondom die amptelike gebruik van feitebeoordeelaars, oftewel, regters van feit (Judges of Fact) uitgelig. Die organiseerders het egter die problem oorbrug met stewige kafbale as hindernisse en niemand het probeer om hul uit die pad te skuif.


Miskien ook heel gepas om dan ook op Wêreld Diere Dag (4 Oktober) respek te toon aan ons pragtige diereryk en te dink daaraan dat in 1957 (68 jaar gelede) het die lansering van Sputnik 1 die ruimte wedloop tussen Rusland en Amerika amptelik van stapel gestuur. Dag 277 van 2025 los net 88 dae oor vir die jaar en ook die verjaardag van veteraan tydrenner Clinton Sassman. Ook ‘n oomblik van heimweë met die verlies van die gewilde tydrenner Paul Pfeiffer 17 jaar tevore.
Een en twintig spanne spring uiteindelik weg vanaf Hermitake en sneltrajek een en twee (herhaling van dieselfde trajek) sorg vir heelwat drama met gunstelinge Owen Jones en Aden Bredekamp wat genoodsaak is om aan die tydren te onttrek nadat hul 454 CPMCC WC1 Somerset Wes Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 se ratkas onklaar geraak het. Warren Scholtz en David Stigling sorg vir meer drama toe hul 444 CPMCC WC1 Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 aan die brand slaan en hul twee brandblussers benodig het om die vuur te blus.


Langebaan vader en dogter Werner Koekemoer en Luané Koekemoer het met groot afwagting weggespring in die baie imponerende 474 CPMCC WC2 ValueCrete BMW E36 3.2, maar die kragtige motor se splinterniwe ewenaar groet terwyl die 461 CPMCC WC2 Coastal Hire BMW E36 3.0 van Inus du Plessis en Piet Carinus ook moes onttrek nadat ‘n waterpyp deur die viskose waaier afgesny is. Rupert van Zyl en Justin Gay se tydren ook van korte duur toe hul nuwe 20klep 2.0 enjin genoeg geroep het in die 405 CPMCC WC3 Hollandse Enjin Spesialis VW Polo.


Shaun Jones en Jason Thorpe wys die jongelinge hoe dit gedoen word deur hul 424 CPMCC WC1 Advanced Asphalting Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 tot oorwinning te neem en hul word gevolg deur die neefs Shaheen Amlay en Ibraheem Amlay in hul 402 CCMCC WC1 Amlay Motorsport Subaru GC8 2.0 Turbo 4×4. Die opening sneltrajek juis die een waarop hul die ex-John Peiser motor sleg gerol het en hul het dalk net effe versigtig begin.


Trevor Hodges en Ian Thebus behaal derde posisie algeheel in hul 421 CCMCC WC3 The Agents Garage VW Polo 9N3 2.0 na ‘n bestendige tydren, waar hul onverwagte teenstand ondervind het. Die Somerset Wes debutant vader en dogter kombinasie Pieter en Leoné Steyn beslis die verrassing van die byeenkoms in die 11 WBMC WC3 Scuderia Squamata Ford Escort MkII 2.0 van Peer Röhm. Om op debuut slegs ses sekondes van die podium en as eerste agterwiel aangedrewe span die eindpunt te haal was werklik prysenswaardig.


Malmesbury broer en suster, Juneyed en Reyanah Edas, het so goed vertoon dat hul klassifikasie in WC4 werklik in twyfel getrek kon word, en hul het uiteindelik slegs vyf sekondes na die Escort geeindig met hul 466 CCMCC WC4 Toyota Tazz 1.6. Veteraan tydrenner, Clinton Sassman, het ‘n welkome terugkeer tot die sport gemaak om sy 56ste verjaardag te vier met ‘n goeie sesde posisie algeheel in die 427 CCMCC WC2 Howard Centre Motors Workshop BMW E36 330i. Matthew Neethling die man wat die selfmoord stiplek gevul het op hierdie unieke geleentheid. Hopenlik het Clinton dit soveel geniet dat hy 2026 sy voltydse terugkeer kan maak.


Erin Joshua en Leroy Petersen het oudergewoonte so hard moontlik gery om die sewende plek in te neem met hul 462 CCMCC WC3 Toyota Tazz 1.6. Faizel Davids en Terry Croy het ook hul terugkeer gemaak na ‘n lang afwesigheid en hoewel hul 422 CCMCC WC3 Toyota Corolla RXi 1.6 duidelike tekens gedra het van kontak met ‘n hek onderweg na agtste posisie was hul bloot tevrede om ‘n positiewe resultaat te behaal.


Ceres man en vrou, Johann en Petra Zulch, het hul 439 WPMC WC4 Ceres Toyota Ford Escort 1600 Sport oudergewoonte op spore laat ry en negende plek algeheel was welverdiend vir wat nou sekerlik as die oudste motor in die WP geag kan word wanneer klassifikasie têr sprake kom.


Peter en Laura Isaacs het hul 471 CCMCC WC3 Toyota Corolla RXi 1.8 tot ‘n bemoedigende tiende algeheel aangespoor om hul seisoen baie positief af te sluit en die altyd bestendige kombinasie van Julian Calvert en Nicholas Knights het Liewe Lulu, hul 409 CPMCC WC3 Volkswagen Golf A3 GTi 2.0 8klep elfde tuisgebring. Gareth Vernon en Marius Rudolph het aanvanklik goed vertoon, maar tydens die finale trajek het die 459 CPMCC WC3 BMW E36 2.5 in beperkte spoed modus vasgesteek en moes hul deur die sneltrajek kruie om uiteindelik in die twaalfde posisie klassifiseer te word.


Ceres se Jacques du Plessis en Adriaan van Zyl het ook baie goed vertoon in hul 453 CPMCC WC3 Du Plessis Auto Toyota Conquest 1.8 16klep maar hul breek ‘n sy-as in sneltrajek vier en verloor geweldig baie tyd om uiteindelik as die finale span tuis klassifiseer te word in die dertiende plek.


Justin Engle en Ryan Pey was onderweg na sekerlik vierde plek algeheel toe die enjin van hul 445 CCMCC WC3 RYTiNCO Toyota Corolla RXi 1.6 skouseplagtig opgeblaas het in die voorlaaste trajek. Die 413 CCMCC WC1 Howard Centre Motor Workshop Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 van Keenan Sassman en Randall Marais moes na drie sneltrajekte onttrek word met enjin probleme terwyl Dane Sasman en Logan Hodges hul 481 CCMCC WC3 VW Golf A3 GTi 2.0 16klep in sneltrajek vier gerol het.


Groot dank ook aan die individuele borge van die Riebeek Kasteel tydren. Sonder Advanced, The Agents Garage, CEJ Plant Hire, Coastal Hire, Du Vlei Farmstall, ValueCrete, Goeie Hoop Onderdele, Johnson, KSD, Rawson, A Waan Signs, Subaru Somerset West, CDC en TESA en die vele vrywilligers agter die skerms.


Die weer was aangenaam en daar was werklik baie toeskouers teenwoordig by elkeen van die goeie toeskouerspunte.

Gepubliseer deur: Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.