Ses sneltrajekte oor 88km in uiters droeë, stowwerige en snikhete toestande het negentien spanne ingewag op Porterville aan die voet van die Olifantsrivierberge en die pas was straf van meet af.
Geen verrassings met die wegspringorde waar Owen Jones en Aden Bredekamp hul gebruiklike eerste posisie op die roete ingeneem het met die #454 CPMCC WC1 Somerset Wes Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 met Shaun Jones en Jason Thorpe tweede in hul #424 CPMCC WC1 Advanced Asphalting Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Pa hierdie keer oortuig hy die jongspan sou kon aandurf op gelyke voet.
Keenan Sassman en veteraan navigator, Carl Peskin, derde vanaf die Porterville Skougronde in hul #413 CCMCC WC1 Howard Centre Motors Workshop Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 met Warren Scholtz en David Stigling vierde op die pad in hul steeks #444 CPMCC WC1 Dynamic Plant Solutions Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Onderweg na die wegspring het die motor vir onverklaarbare redes reeds twee 50A smeltdrade verorber en die span was met rede redelik bekommerd.
Ismaeel Davids en Yusuf Ganief het baie aandag getrek met die teenwoordigheid van hul #431 CCMCC WC1 ID Paving Toyota GR Yaris XP210 1.6 Turbo 4×4, maar daar was min tekens dat die motor sedert die 2025 Algoa Tydren enige verder ontwikkelling ondergaan het. Nietemin was dit goed om dit die eerste keer in die Wes Kaap teenwoordig te sien.
Werner en Leané Koekemoer was oorgehaal vir aksie in hul #474 CPMCC WC2 Valuecrete BMW E36 3.2 met Inus du Plessis en Piet Carinus ook in positiewe luim met hul #461 CPMCC WC2 Coastal Hire BMW E36 3.1. Die vinnige Porterville sneltrajekte het die WC2 aanslag teen die 4×4 brigade versterk. Paul van Wyk en Herman Mathee het ook uitgesien na ‘n positiewe aanslag met hul pragtige #469 acciDent Guru Audi S3 1.8 Quattro.
Sneltrajek een, Goedgenoeg, se 8.43km sou ook herhaal word as sneltrajek twee en niemand kon werklik rustig begin nie. Die pap is van meet af dik aangemaak met Shaun Jones een sekonde vinniger as die Beemer van Inus du Plessis wat op sy beurt twee sekondes vinniger was as Werner Koekemoer met Ismaeel Davids vierde. Op sy beurt een sekonde stadiger as die Valuecrete Beemer. Owen Jones as eerste motor op die pad moes die “krummellaag” op die klipharde grond losmaak en was om verstaandbare redes beperk tot vyfde vinnigste , Keenan Sassman sesde en Paul van Wyk sewende.
Kesevan Naidoo en sy agttienjarige seun verras met agtste beste in die #410 CCMCC WC4 KMS Trimmers Toyota Corolla RXi 1.6. Na ‘n afwesigheid van meer as dertig jaar was negende vinnigste tyd vir Pierre du Plessis en sy seun, Wynand du Plessis, indrukwekkend in hul ex-Edas ex-de Witt #488 CPMCC WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla RXi 1.8. Die eerste keer dat Pierre die motor op grond bestuur het. Sy vorige tydren as bestuurder was voor sy seun se geboorte! Jonathan Bright en Justin Gay rond die top tien af op debuut in hul #404 CPMCC WC2 AA Powder Coaters BMW E36 3.0.
Vir Warren Scholtz en David Stigling was daar reeds drama toe die #444 Subaru weer steeks raak en hul die stadigste tyd aanteken in sneltrajek een, maar hul teken die vinnigste tyd oor dieselfde roete aan in sneltrajek twee, ‘n volle 12 sekondes vinniger as die #474 BMW met Shaun en Inus, met identiese tye derde. Die #444 Subaru roep egter genoeg met ‘n geblaasde pakstuk op die turbo terwyl die #461 BMW nie ‘n sierlike 2m hoë sprong op topspoed goed verwerk het nie en gebreekte regter agtervering eindig hul aanslag. Die netjiese #462 CCMCC WC3 Petersen Engineering Toyota Conquest RSi 1.6 van Erin Joshua en Leroy Petersen bereik die vaarteinde sonder die regter agterwiel en vering!
Ismaeel Davids en Yusuf Ganief se plaaslike debuut met die GR Yaris kom ook tot ‘n einde met turbo druk probleme. Sneltrajek drie, Nuhoop, het nie naastenby so uitdagend gelyk op die roete video, maar was in werklikheid ‘n regte toets van beide man en masjien oor 15.93km en hul moes dit weer voltooi as sneltrajek vyf.
Owen Jones en Aden Bredekamp tree na vore in die swart Scoobie om nou die eerste plek algeheel te deel met die BMW van Werner en Leané Koekemoer, Shaun Jones slegs drie sekondes later in die blou Subaru. Keenan Sassman en Carl Peskin begin die krane oopdraai met die tweede vinnigste tyd in die trajek om na vierde algeheel op te skuif en Paul van Wyk en Herman Mathee eien vyfde posisie in die netjiese Audi. Kesevan Naidoo en Pierre du Plessis beindruk steeds deur onderskeidelik sesde en sewende posisies te behou.
Ondanks ‘n effense kets was André Cleenwerck en sy seun, Jody Cleenwerck agtste met Jacques du Plessis en Juhani van Zyl negende in hul #453 CPMCC WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Conquest 1.8. Die top tien afgerond deur die Swartland broer en suster kombinasie van Juneyed en Reyanah Edas in hul #466 CCMCC WC4 Edas Motorsport Toyota Tazz 1.6i.
Sneltrajek vier, Bovlei, het ‘n verrassing ingesluit met water in die finale drif en was op 18.79km die langste van die dag. Hierdie keer was dit Pa en seun Jones gelyk eerste algeheel met die Koekemoer BMW nege sekondes stadiger. Sassman vierde, Van Wyk vyfde en Cleenwerck sesde. Jacques du Plessis sewende en Pierre du Plessis agtste gevolg deur Trevor Hodges en Jonathan Bright. Dane Sasman en Logan Hodges stotter tot stillstand sonder brandstof in hul #481 CCMCC WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 terwyl Kesevan en Seth Naidoo baie tyd begin afstaan met ‘n lelike kets op die #410 CCMCC WC4 KMS Toyota Corolla RXi 1.6.
Nuhoop word as sneltrajek vyf herhaal. Shaun Jones en Jason Thorpe land ongemaklik sowat 9.2km binne die trajek en die #424 CPMCC WC1 Advanced Asphalting Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 word in die koringland parkeer met gebreekte regter agtervering en pap linker voorband. Ongemaklik naby rol, maar hul klim ongedeerd uit die motor om met Pieter Steyn te gesels.
Owen Jones en Aden Bredekamp haal die einde van die trajek met ‘n sy-as problem op die #454 CPMCC WC1 Somerset Wes Subaru Impeza 2.0 Turbo 4×4 en skielik is dit Werner en Leané Koekemoer wat ‘n twee sekonde voorsprong geniet in die #474 CPMCC WC1 Valuecrete BMW E36 3.2! Keenan Sassman en Carl Peskin nou slegs 15 sekondes stadiger as Jones in die derde plek met die #413 CPMCC WC1 Howard Centre Motors Workshop Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Paul van Wyk en Herman Mathee het nou begin moeg word want die #469 CPMCC WC1 acciDent Guru Audi S3 1.8 Turbo Quattro was nog sterk vyfde.
André en Jody Cleenwerck haal die vaarteinde in vyfde posisie algeheel maar sonder die #414 CCMCC WC3 VW Polo se regter agterwiel en Jacques du Plessis en sy ouer broer, Pierre du Plessis nou geskei deur ‘n enkele sekonde in onderskeidelik sesde en sewende posisie algeheel. Die Corolla van Kesevan Naidoo klink nou regtig baie siek en die #409 VW Golf van Julian Calvert sit vas in derde rat.
Sneltrajek ses word ‘n alles of niks stryd tussen Werner Koekemoer en Keenan Sassman oor 18.79km en ‘n enkele sekonde skei die BMW van die Subaru om Werner en Leané Koekemoer ‘n eerste tydrenoorwinning te besorg in die #474 CPMCC WC2 Valuecrete BMW 3.2, sestien sekondes voor Keenan Sassman en Carl Peskin in hul #413 CCMCC WC1 Howard Centre Motors Workshop Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Owen Jones en Aden Bredekamp moes noodgedwonge die krane toedraai om te verseker dat hul minstens die tydren kon voltooi en hul eindig derde algeheel in die #454 CPMCC WC1 Somerset Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4.
Paul van Wyk en Herman Mathee haal die eindpunt by die Porterville Skougronde met ‘n brand onder die enjinkap van die #469 CPMCC WC1 acciDent Guru Audi S3 1.8 Quattro, maar dit word gelukkig vinnig geblus. Paul het al tevore ‘n Golf tydrenmotor in ‘n brand verloor, maar gelukkig is die einde hierdie keer vierde plek algeheel sonder ernstige skade.
Om na dertig jaar plus tot die sport terug te keer en vyfde algeheel te eindig het Pierre en Wynand du Plessis beslis tevrede laat voel in die #488 CPMCC WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla 1.8 met Trevor Hodges en Ian Thebus sesde algeheel in die #421 CCMCC WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0nadat Jacques du Plessis in die finale trajek gaan staan het met elektriese probleme vir 21minute. Motorsport kan wreed wees en die #453 CPMCC WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Conquest 1.8 het van ‘n klaswen tot elfde posisie algeheel terug gesak.
Juneyed en Reyanah Edas sewende algeheel in die #466 CCMCC WC4 Edas Motorsport Toyota Tazz 1.6i met Jonathan Bright en Justin Gay agtste op debuut in hul #404 CPMCC WC2 AA Poder Coaters BMW E36 3.0.
Johann en Petra Zulch het ‘n stewige negende posisie algeheel ingeneem met die gewilde #439 WPMK WC4 Ceres Toyota Ford Escort 1600 Sport. Nou in sy 39ste jaar as bestuurder van ‘n Ford Escort 1600 Sport het die seisoen goed afgeskop vir die oudste en enigste motor op die tydren met ‘n vergasser.
Julian Calvert en Nick Knights haal die einde met slegs derde rat in die #409 CPMCC WC3 Liewe Lulu VW Golf A3 GTi 2.0 terwyl die ketsende Toyota van Kesevan en Seth twaalfde posisie inneem. Baie reken egter dit was nie ‘n kets, maar bloot die Toyota wat uitasem geraak het want dit het nog nooit so lank aanmekaar tydren gery nie ….
Dane Sasman en Logan Hodges het hul brandstof tekort herstel en was die finale span tuis in dertiende posisie algeheel in hul #481 CCMCC WC3 VW Polo 2.0.
Porterville het verras met ‘n sterk inskrywingstal, uitdagende sneltrajekte en verrassende resultaat. Lekker om soveel bekende gesigte onder die groot toeskouerstal teenwoordig te sien met Berto Mostert, Nigel Dodgen, Derick Clift, John Clift en verjaardag wense vir Koos Swanepoel Jnr. En natuurlik groot lof aan elke Valentyn vir die mooi gedagte om hul maat die buitelug, hitte, stof en aksie van die tydren met hul te laat deel.
As dit die trant gaan wees vir 2026 gaan die tydren reeks uitmuntende aksie lewer.
Die nasionale kampioenskap tydren sal oor twee dae beslis word end it beteken twee individuele rondes vir die streek spanne. Daar word verwag dat daar heelparty nuwe kombinasies hul opwagting gaan maak, met minstens twee besoekende spanne vanuit Namibië en die gereelde nasional kampioenskap deelnemers.
Moet dit nie misloop nie!
Gepubliseer deur: Patrick Vermaak
Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.



















