Die eerste rondte van 7 in die Nasionale Kampioenskap het in warm somer toestande plaasgevind aan die voet van Tafelberg en die Killarney Internasionale Renbaan het oudergewoonte nie teleurgestel.
Die openings rondte van enige kampioenskap hou groot voordeel in vir die wat slaggereed kan wegspring en in baie kategorië het dit beteken dat nuwe motors foutloos voorberei moes word, bestuurders gefokus uit die kuipe moes verskyn en van meet af is niks minder as hul beste vertonings vereis.
SATC Toermotors
Michael Briggs en die Opel Vectra was die naam op almal se lippe dertig jaar gelede en met BMW, Nissan, Ford en Toyota as vervaardigers was die toermotor reeks besig om die SA toneel te oorheers met internasionale deelname en heelparty onnodige insidente op die baan.
Vandag is die motors steeds indrukwekkend mooi, maar die reeks skort vervaardiger betrokkenheid en bestuurders wat die SA publiek se lojaliteit kan wen om daardie vervloë era weer te laat herleef.
Ondanks die feit dat slegs vyf motors teenwoordig was in die top klas was toeskouer ondersteuning besonders goed en het was daar ‘n positiewe atmosfeer te bespeur.
KC Ensor-Smith het die nuut gevormde MSA4 kategorie in 2025 gewen en sy belonging was die #68 African Heating/Investchem Volkswagen Golf 8 GTi vir die 2026 SA Toermotor reeks. Nou net onder sy eerste voornaam ingeskryf het Klayden Ensor-Smith die geleentheid met beide arms aangegryp om die dag se verrigtinge total te oorheers en op debuut teken hy sy eerste algehele oorwinning aan.
Jason Coetzee het die 2025 Gazoo Racing Cup gewen in die Toyota 86 en sy belonging was die #77 Gazoo Racing Toyota Corolla en ook hy beindruk deur die tweede plek op debuut te verower. Andrew Scofield lewer sekerlik een van sy beste vertonings tot op hede deur die # FlySafair/Chemical Logistics BMW 128ti derde tuis te bring. Ongetwyfeld steeds een van die mooiste kleurskemas op enige renbaan.
Michael van Rooyen, die verdedigende SA Toermotor kampioen, het ‘n misrabele naweek in die vierde plek afgesluit in die #1 Gazoo Racing Toyota Corolla en was eenvoudig nooit ‘n bedreiging. Julian van der Watt het sekerlik as gunsteling vir oorwinning weggespring, maar net daar vasgesteek in die #42 WCT Engineering/Chemical Logistics Volkswagen Golf 8 GTi.
Vir 2026 het die formaat van SA Toermotors verander en die nuwe stilstaande wegtrek het Julian van der Watt onkant gevang en hoewel hy daarna puik terug geveg het het hy reguit aangehou in Bloccoin om ‘n goeie resultaat iets van die geskiedenis te maak. Hy wen die tweede uitdun, maar algeheel kon hy niks meer as vyfde vermag.
In die Supacup reeks was die getalle ook maar an die dun kant en was Jason Loosemore onstuitbaar in sy #15 Nathan Motorsport VW Polo met Rory Atkinson tweede in sy #2 Easy Drives Vehicle Plans inskrywing. Judd Bertholdt het opgeskuif vanaf die VW Rookie kategorie en derde posisie in die #33 Union Power Energy Polo was beslis goed met Tyler Robinson vierde in die #27 All Fans Polo. Niko Zafiris (#70) vyfde en David Franco (#96 Graphix Supply World/Team Red) sesde.
Investchem MSA4
Dertig jaar gelede het Etienne van der Linde help skryf aan die sukses verhaal deur die NGK Formule GTi kampioenskap te wen terwyl Graham Donker die voor 1992 klas B ingepalm het. Kaapstad se Gay Heiman die Sasol Formule Ford kategorie oortuigend gewen in sy Laptop Technologies Swift 94 en Dave Sinclair het klas B gewen.
Enkel sitplek wedrenne het floreer met goeie borgskappe en groot inskrywings en die name van die toekoms was oral te siene. Die nuwe MS4 kategorie blyk die herlewing van enkel sitplek wedrenne in Suid Afrika te wees en met sestien van hierdie nuwerwetse renmotors teenwoordig vir die eerste ronde van die kampioenskap.
Vyf motors in die FF Kent kategorie têr ondersteuning en ‘n goeie vergelyking.
Mikel Bezuidenhout (#69 Corsa Dei Gemeli/Huawei) trek sy ore plat en wys haakskene vir die opposisie onderweg na eerste posisie algeheel met Aqil Alibhai (#14 Robyn Oelofse/Kokoro Racing) tweede en Shrien Naidoo (#12 Production X Racing) derde. Renzo Ribeiro (#13 Metal Used Spares/ATT) vierde met Keegan Campos (#29 Campos Transport) vyfde met Karabo Malemela (#63 KMFT Morita) sesde.
Kent Swartz (#58) het goed vertoon totdat hy met Liam Polome (#95 Red Dot/Vantage Digital) verstrengel geraak het in Bloccoin. Swartz was uit vir die res van die dag.
Ian Scofield wen die Formula Ford Kent afdeling in sy #9 Investchem/Chemical Logistics Mygale SJ met Nicholas van Weely (#87 Magnificent Paints & Hardware Van Diemen RF06) tweede en Alex Vos (#23 DV Building Supplies Van Dieman RF04) derde. Allen Meyer (#57 Investchem Van Diemen RF07) vierde.
Gazoo Racing SA Cup
Die Gazoo Cup is ‘n fees vir die lede van die Toyota Handelaars en Media, met die 86 kategorie as voermiddel vir nuwe talent. Met 24 motors op die inskrywingslys is hierdie tans die sterkste kategorie ten opsigte van getalle op die baan.
Kobus Reyneke (#32 Toyota 86) word deur Emma Dowling (#223 Toyota 86) eerlik gehou na onderskeidelik eerste en tweede plek met Conner Weston (#93 Toyota 86) derde. Vatiswa Mokonnoana (#99 Toyota 86) vierde, Kian Fussel (#92 Toyota 86) vyfde en Reagile Spice (#79 Toyota 86) sesde.
Devon Scott (#21 GR Driving Academy) lei die Handelaars afdeling met Werner Venter (#222 NMI Toyota) tweede en Theo Brits (#7 NMI Toyota) derde. Riaan de Put (#555 CFAO Mobility) vierde, Andries de Villiers (#12 Rola Toyota) vyfde en Marius Claassen (#19 Rola Toyota) sesde.
Onder die Media het Nabil Abdool (#1 Supersport) gemaklik gewen met Craig Nicholson (#2 News24 Motoring) tweede, Werner Horn (#33 Malalane Toyota) derde, Tayedza Mbiri (#5 AutoTrader) vierde, Justin Ford (#6 NCA) vyfde en Kumbi Mtskakazi (#4 Khulekani on Wheels) sesde.
Extreme SuperCars driven by Dunlop
Ongetwyfeld die grootste aantrekkingskrag van die dag was die drie Ekstreme Supermotor uitdunne en hoewel die getalle ook hier kleiner was het die motors nie teleurgestel in vertoning nie.
Charl Arangies was terug in die #86 GT3 Stradale Motorsport Mercedes AMG GT3 EVO en moes uithaal om voor die #34 GT3 Trans Africa Lamborghini Huracan GT3 EVO van Jonathan du Toit te bly. Jonathan wen die tweede uitdun maar moet algeheel tevrede wees met die tweede posisie.
Gianni Giannoccaro derde in sy kleurryke #15A Sparco/G&H Transport Audi R8 GT3 LMS met Ricardo Giannoccaro vierde in sy ewe kleurryke #75A G&H Transport Lamborghini Huracan GT3 met plaaslike held Charl Michael Visser vyfde in sy #33A Charl Engineering Porsche GT3 4.0. Die top ses afgerond deur Marius Jackson in die #80A MJR Motorsport Audi R8 GT3 LMS.
Die #77B G&H Racing Lamboghtini Huracan Trofeo van Anthony Blunden sewende met Roy Obery agtste in die #91B Stradale Motorsport Porsche GT3 Cup MR. Weylin Volschenk negende in die #52 IMC-SA Porsche 997.1 Cup en tiende was dit Yanni Hatzi in sy #28B Motul Nissan SX200 Turbo.
Astron Energy Polo Cup
23 sterk ‘n billike inskrywing vir die gewilde reeks wat vanjaar 30 jaar lank bestaan. Hannes Scheepers maak dit duidelik dat hy hierdie jaar die sweep wil swaai en die #23 Dainfern Dental Studio Polo wen beide uitdunne met Roshaan Goodman tweede in sy #47 Upward Spiral 1471 Polo. Shiren Rajpaul open sy rekening met derde in sy #14 Goldwagen Springfield Park Polo en wissel plekke met die #33 FSS International motor van Pierluigi Muzzolini in die tweede uitdun. Muzzolini uitendelik vierde algeheel.
Mauro da Luz sesde in beide met sy (#133 Nathan’s Motorsport/Topsirt/Retail Insight) inskrywing om vyfde in geheel te eindig. Nirav Singh (#16 Kyalami Exhausts) sesde, Berlin Robinson (#18 AF Fans) sewende, Christopher Tait (#43 VW Motorsport) agtste, en Björn Bertholdt (#88 Union Power Energy) negende. Die top tien afgerond deur Cyril Jacobs Jnr (#96 Team Red/Auto Perfect).
Wayne Masters (#4 Performance Masters) steeds die Masters meester en hy word in die eerste ren gevolg deur Derick Smalberger (#55 Sabertek/OMP), John Kruger (#76 Habot Lubricants), George Smalberger (#34 Shield Racing), Robert Moffat (#74 Moffat Creations Racing) met Mike Barbaglia (#13 Haupt Racing) en Elio Muzzulini (#8 FSS International) sesde en sewende.
SunBet ZX10 Masters Cup
Selfs al was Clint Seller net as toeskouer teenwoordig was die ZX10 reeks oudergewoonte skouspelagtig. Damion Purificati (#88B Amalgum Welding Shop) begin sy aanslag op die titel goed deur die eerste te wen maar Jayson Lamb (#42C Tyremart EL/Buffalo Service Station) verras deur die tweede uitdun te wen met 0.06sek. Algeheel was dit egter Purificati eerste en Lamb tweede. Trevor Westman (#60A Project60 SA) derde met Hein McMahon (#4A K9 Law Enforcement/Xpro Security Solutions/Panel Tech SA) vierde, James Barson (#67C Nero Spec/Proproof) vyfde en Keith Agliotti (TNB Global/Ridgway) sesde.
Adriaan van Dalen (#469A UAG Automotive Centre) het sy dag begin met vierde in die eerste uitdun maar het in die tweede in Castrol geval, gelukkig sonder enige ernstige besering. Lubabalo Ntisana het in die eerste uitdun sy #53 LB Auto ZX10 in Kaapstad draai probeer omskep in ‘n ploeg, maar was terug in die tweede om sewende plek in te neem. Hy sal die sand later terug besorg!
Herlewing
Ondanks die feit dat getalle sigbaar verminder in elke kategorie is daar steeds hoop vir die toekoms. Die goeie toeskouer teenwoordigheid moet as motivering dien vir vervaardigers, organiseerders asook borge dat hul talent en produk deur die publiek aangeneem word.
As daar tien Toermotors was het die toeskouerstal ongetwyfeld vermeerder, so ook die Supermotors en nou met die nuwe generasie MSA4 is die enkelsitplek reeks beslis weer op die regte spoor. Die wat wel daar was het elke oomblik geniet en daar is ongetwyfeld nog ren talent teenwoordig wat SA uiteindelik op die internasionale arena kan verteenwoordig.
Die ekonomie het geknou, die vervaardigers en borge het ander weivelde gesoek, maar daar is rede om te glo dat hul weer ernstig kan raak oor SA motorsport wanneer hul besef dat hul beleggings dertig jaar terug nou internasionaal presteer.
Giniel de Villiers, Kelvin en Sheldon van der Linde, Jordan Pepper, Henk Lategan, Guy Botteril en Saood Variawa het Suid Afrika bekend gemaak in soveel ander arenas. Kontroversieel as wat dit mag klink, belê in Suid Afrika, vergeet in die kort termyn van F1. Nou is die tyd om weer daardie wiel aan die rol te kry op plaaslike bodem in elke kategorie van die sport!
Gepubliseer deur: Patrick Vermaak
Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.




























