Select Page

Die Killarney Internasionale Renkompleks het op Saterdag 8 Augustus die gewilde Teer Tydren as rondte van die 2026 Wes Kaap Tydren Klaskampioenskap aangebied. Uniek in die sin dat daar nie ‘n amptelike algehele resultaat is nie, die hele byeenkoms op een enkele perseel en oppervlakte plaasvind en dat motors van ander kategorië die geleentheid kry om teen die tydrenners mee te ding.


Pa en dogter, Werner en Leané Koekemoer, het soos verwag ore platgetrek en foutloos deur die ses sneltrajekte gejaag om algeheel die vinnigste totale tyd van die dag op te stel in hul #474 WC1 Valuecrete BMW E36 328i 3.2. Vir die geharde tydren ondersteuner was dit amper hartseer om die BMW so klinies en toegewyd in aksie te sien en die kombinasie het na afloop van die tydren erken dat dit ongelooflik moeilik was om die horings in toom te hou en net te fokus op die resultaat. Vier van die ses trajekte is agter #474 ingeskryf en die punte is veilig in die bank.


Owen Jones en Aden Bredekamp het hul bes gelewer in die #454 WC1 Somerset Wes Subaru Impreza 2.o Turbo 4×4, maar die formaat van die sneltrajekte het hierdie jaar eenvoudig die kragtige agterwiel aangedrewe inskrywings bevoordeel en hul moes met die tweede plek tevrede wees. Die finale trajek die enigste waar hul voordeel kon trek, want dit het begin reën en die vierwiel aandrywing het gesorg vir beter greep op die glibberige oppervlakte.


Shane Williams kan nie anders as platvoet jaag nie. Of hy besig is om internasionaal deel te neem of op klubvlak is sy benadering dieselfde en dit beteken dat die toeskouers trakteer word met ‘n skouspel. Matt Köhler het sommer sy naam verkeerd gespel en kon eerstehands Williams se talente ervaar in die #460 WC3 Eurogrip Toyota Run X RSi 1.8. Al wat die Run X nie gedoen het nie was om nie te rol nie, maar daar mag dalk minder verf op die deurhandvatsels wees na Saterdag. Eerste in klas en derde algeheel welverdiend na ‘n vasberade poging.


Keenan Sassman en Ryan Pey het hul gebruiklike Subaru verruil vir die ratser #413 Howard Centre Motors BMW 328i 3.0, maar het steeds in WC1 meegeding. Baie bestendig het hul tydren opgesom en vierde plek algeheel is behaal sonder om enige onnodige risikos te loop. Warren Sholtz en David Stigling het die eindpunt effe bleek om die kiewe bereik nadat hul die #444 WC1 Dynamic Plant Hire Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 baie amper aan die einde van die nuwe Joubert kuipe omgedop het. Met die sneltrajekte kort in afstand het dit ook nie juis gehelp om in Sarel’s Sweep te tol nie en hul moes tevrede wees met vyfde algeheel.


Jacques du Plessis en Juhani van Zyl verras hulself deur ‘n insident vrye dag te beleef in die #453 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Conquest RSi 1.8 en sesde posisie het sekerlik bewys dat hul nou goed begin funksioneer as span. Kesevan en Mikayle Naidoo behaal hul beste resultaat tot op datum met sewende plek in die #410 WC4 KMS Toyota Corolla RXi 1.6. Seth Naidoo sou aanvanklik vir Kes navigeer het, maar het siek geword op die vooraand van die tydren en broer Mikayle is inderhaas ingespan.


Die grootste teleurstelling was egter Inus du Plessis en Piet Carinus wat enduit moes jaag met ‘n #461 WC2 Coastal Hire BMW E36 328i 3.1 wat meer soos ‘n bokser Subaru geklink het ondanks Leon Engelbrecht se beste poging om van die irreterende kets ontslae te raak. Hul moes noodgedwonge bloot deurdruk om steeds punte aan te teken en agtste plek was meer as verdienstelik. Nie ‘n tydren wat hul lank sal wil onthou nie.


Bekend as ‘n teer tydren spesialis het Rupert en Yvette van Zyl vanuit die tuinroete kom slag bied in die welbekende #405 WC3 Boabab Racing VW Polo 2.0 16klep en Yvette het haar goed van haar taak gekwyt op debuut om hul uiteindelik negende algeheel tuis te bring. Amper verwarrend eenders in voorkoms was dit die #414 WC3 Cento Auto Repairs VW Polo 2.0 van André en Jody Cleenwerck in die tiende plek. Shaun Jones en Jason Thorpe het baie aandag getrek op debuut van hul agterwiel aangedrewe Somerset Wes Subaru #424 WC1 Subaru BRZ 2.4 Turbo en dit was ‘n konstante proefneming vir die twee. Dit neem vyf trajekte voordat hul daarin slaag om die “traction control” af te skakel en toe reën dit tydens die finale trajek.


Nietemin ‘n baie welkome nuwe motor op die plaaslike toneel en daar gaan nou begin word om die motor na vierwiel aandrywing om te skakel vir die 2027 seisoen. Trevor Hodges en Ian Thebus se #421 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 het koddig gelyk op die klein teer profiel vellings maar die baie netjies voorbereide motor het moedig slag gebied op drie wiele na 12de plek algeheel onder die tydrenmotors.


Vir Pete en Laura Isaacs was dertiende gelykstaande aan oorwinning na vele teleurstellings en die #471 WC3 Toyota Corolla RXi 1.8 was ongedeërd na ses vinnige sneltrajekte. Vir die eerste keer sedert Klipdale 2024 was Datto terug in aksie met Herman Mathee en Leza Lombard in beheer. Leza se debuut is egter na twee trajekte kortgeknip nadat sy motorsiek geraak het. Paul van Wyk is toegelaat om by haar oor te neem en toe was die gort gaar. Hul wen sneltrajek drie met die vinnigste tyd en daarna word Datto getol, en weer getol , en weer getol en die glimlagte het net groter geword onderweg na 14de plek vir die gewilde #423 WC3 Madev Datsun GX Sedan 2.0.


Gareth Vernon en Marius Rudolph bestendig onderweg na 15de in die netjiese #459 WC2 Howard Centre Motors BMW E36 328i 2.8 en hul is gevolg deur die #442 CTG Auto Toyota Corolla RXi 1600 van Theodore Croy en Jade Martin met Julian Calvert en Nick Knights 17de in hul #409 Liewe Lulu Volkswagen Golf MkIII GTi 2.0. Teen die verwagtinge was dit Johan en Petra Zulch in die 18de en finale posisie in die #439 WC4 Ceres Toyota Ford Escort 1600 Sport. Vir redes onbekend het die Escort voor die Joubert kuipe tot stilstand gekom. Johan moes op die tradisionele bloudraad en tang stelsel staat maak om die Ford weer aan die gang te kry en daarna was daar geen verdere probleme.


Shaheen en Ibraheem Amlay het ‘n baie haastige #402 WC3 MikayOxy Toyota Conquest RSi 1.8 goed opgewen, maar die motor het gaandeweg eienaardige geluide ontwikkel en is vermoedelik met ratkas probleme aan die tydren onttrek. Ismaeel Davids en Yusuf Ganief het as gunstelinge weggespring in die #431 WC1 ID Paving Toyota Run X RSi 2.0 4×4, maar die motor vanuit die staanspoor nie gelukkig nie en hul verdwyn vroeg met dryfas probleme.


Junayed en Reyanah Edas (broer en suster) se goeie rekord word ook ontsier toe hul normaalweg betroubare #466 WC4 Edas Motorsport Toyota Tazz 1.6 met enjin probleme onttrek moes word. Pierre en Wynand du Plessis het ook ‘n effe onstuimige dag beleef in hul #488 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla RXi 1.8 en hul stoot ‘n paar drome rond voordat hul aanskoulik tol in Sarel’s Sweep en die Corolla groet finaal met ratkas probleme in die finale trajek.


Dane Sasman en Logan Hodges die enigste ongeluk statistiek vir 2026 nadat hul kontak gemaak het met die berugte kuipe uitgang in hul #481 WC3 The Agents Garage VW Polo 6 GTi 2.0. Met die linker voorwiel op sy eie rigting was dit neusie verby vir hul tydren.


In die Uitdaging kategorie was daar effens kontroversie en heelwat verrassende vertonings alvorens Wayne en Stacy Wilson uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd kon tree in hul magtige #23C DTM Helderberg VQ35 3.0 Nissan Maxima. Die mure het konstant asem opgehou wanneer hierdie enorme motor nader gestorm het, maar die span het vasgebyt vir ‘n puik resultaat.


Jaco Lambert en George Schutte het ook al Teer Tydren spesialiste geword en elke keer in ‘n ander voertuig. Hierdie keer het hul die #61B Lambert Racing VW Jetta MkI 1.8 aangetree en die ratse motor is bestendig bestuur onderweg na ‘n puik tweede plek met Gerard en Amanda Kloppers derde in hul #24 DTM Helderberg VQ35 3.0 Nissan Maxima. Lloyd Brady is bekend as navigator in tydrenne maar hy was teenwoordig as bestuurder in die #41C Schildkrote BMW E90 met Lorian Köhler as navigator en ondanks kontak met die bandemuur op die agterste pylvak het hul goed vertoon onderweg na 4de plek.


Hermanus Huisamen en Johan Nel het hul dag geniet in die #501C clickitsms BMW E36 328i 2.8 en verras met 5de posisie. Francoise Groenewald en Jaco van Zyl weet hoe dit voel om kontak te maak met Killarney se vele mure, maar het die netjiese groen #65C N2 Towing BMW E36 328i ongeskonde na sesde plek bestuur. Een keer per seisoen trek tydrenbeamptes Jared en Weslee Mcintyre handskoene aan en hul beindruk weereens onderweg na sewende plek in hul #333B CASS Toyota Corolla 1600. Na sewe seisoene van Rally X begin dit wys in die #71B HSC Racing Volkswagen Golf MkI 2.0 van Trevor en Layne Hutchings, maar die entoesiasme verander nie en hul neem die 8ste plek in.


Nouja, Koos en Amika Swanepoel (pa en dogter) kon waarskynlik algeheel gewen het, maar hoekom wen as jy een van die kragtigste agterwiel renmotors op die baan kon geniet. Die #21B KSD Toyota Lexus Turbo was doelbewus armer in krag, maar daar was steeds te veel vir die bande om by te hou en selfs die talente van Koos kon nie keer dat hul met tye in die sand gaan speel het nie en 9de plek beslis nie verteenwoordigend van die kombinasie se spoed nie.


Ruan Reynders het sy 70 jarige pa, Riaan, uitgenooi om sy debuut as navigator te maak in die pragtige #54B Rey Trucking Ford Escort 2.0 ZTec Turbo en dit was ’n uiters senuagtige aanloop vir die debutant navigator. Nie dat mens dit sou sê van die dieselfde persoon wat aan die einde van die dag teenwoordig was nie. Die Ford het nie lekker saamgwerk in sneltrajek 1, maar daarna het hul elke trajek geniet.


Johan Koekemoer en Erik van Heerden het self beindruk op debut in hul #124C BMW E46 3.0 maar moes in die finale trajek die handdoek ingooi. Die Koekemoer familie kan nie meer betrokke wees as wat huidiglik die geval is nie en daar is groot planne vorentoe.


Kobus de Kock en Andrew Goslett was in vasberade luim met die Cadiz CCCT #77C BMW E36 328i 3.0 en het uitmuntent vertoon totdat hul die bekende “gat in die muur” aan die onderpunt van die hoof pylvak probeer wyer maak het en aanskoulik tot in die sand getol het. Skade was gelukkig gering en hul kon weer aansluit vir die volgende trajek.


Lyle en Randall Marais het hul #429B VW Jetta 4 Turbo 1.8 vir die eerste keer teenwoordig gehad en daar was die gebruiklike nuwe motor groeipyne, maar die broers verdien lof met die netjiese projek.


Vir Yanni Hatzi en Sebastian Swanepoel het die dag briljant verloop in die #28C Lemons BMW E36 3.0 en was hul gemaklike wenners van die Uitdaging en derde vinnigste in geheel, maar ……


Sebastian is laat aangestel as navigator en daar is nagelaat om die nodige dokumentasie rondom die verandering na behore te voltooi. Diskwalifikasie is altyd ‘n bitter pil, maar die les is gelee ren hopenlik sal hul weer volgende jaar terug wees.


Na dreigende reën voorspel is vir Saterdag was die dag aangenaam met slegs die finale trajek in nat toestande as gevolg van die paar insident vertragings. Toeskouers en deelnemers het die dag geniet en al die mure was steeds regop.
Malmesbury roep!

Gepubliseer deur: Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.