Wat ‘n ongelooflike motorsport naweek. Die finale rondte van die WRC kon nie meer spannend gewees het nie met Elfyn Evans en Scott Martin die eerste Britse span in 25 jaar om die titel te wen. Rally 1 kom tot ‘n einde, maar vir Oliver Solberg en Elliott Edmundson begin ‘n nuwe era waarin hul ongetwyfeld nog sukses sal proe. Hyundai onttrek om weer hul voete te vind en Ford maak amptelik hul terugkeer. In F1 slaag Max Verstappen daarin om sy eerste ren vir 2026 te wen.
En in die Overberg is dit Pa en dogter, Werner en Leané Koekemoer wat ‘n driekuns behaal deur die 3 Oktober 2026 Rola Ford Caledon Tydren te wen in hul #474 WC2 Valuecrete BMW E36 3.3. Daardie Beemer loop nou behoorlik op spore klink absoluut fantasties op die sneltrajekte.
Net vyf trajekte, maar in werklik uitdagende toestande het die sestien spanne ingewag op Caledon en hoewel dit op papier gelyk het asof die toestande die 4×4 spanne sou bevoordeel het die Koekemoer kombinasie eenvoudig net nie foute gemaak het nie.
Warren Scholtz en David Stigling het die eerste sneltrajek, die langste van die tydren op 19.19km, gewen in hul #444 WC1 Dynbamic Plant Hire Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4, maar moes in die tweede die handdoek ingooi toe motor se spruitstuk losgebreek het. Sneldeel een het reeds tande gewys met die #414 WC3 We Buy Spares VW Polo 2.0 van André en Jody Cleenwerck (Pa en seun) wat sewe minute met ‘n papwiel verloor het nadat hul aanvanklik net gesukkel het om plek te kry om te stop. Dieselfde lot tref Pierre en Wynand du Plessis (Pa en seun) in hul #488 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla RXi 1.8. Trevor Hodges en Ian Thebus voltooi sneltrajek een met die linker agterwiel van hul #421 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 wat sy eie spoor volg, maar hul besluit om net so daarmee voort te gaan.
In die tweede trajek jaag Inus du Plessis en Kesevan Naidoo hulself bleek om die kiewe nadat ‘n vinnige blinde veegdraai hul onkant betrap en die #461 WC2 Coastal Tool Hire BMW E36 3.3 ‘n briljante 360 grade draai in die pad voltooi sonder dat enige skade. Gelukkig om net sowat een minuut te verloor, maar daardie bytmerke in die bestuurder sitplek sal egter lang getuig van ‘n baie groot suikerwater oomblik! Miskien wys van Piet Carinus om bietjie vakansie te hou terwyl Kesevan Naidoo bystand verleen as navigator.
Sneltrajek twee en vier is dieselfde 13.71km deur Heuningneskloof en Hillside en sluit ook nuweling tydrenner, Wesley Smal, se plaas Spiegelskraal in. Nou ja, in die gees van goeie sportmanskap het die Williams broers, Shane en Rob, net daar besluit om die man van nader te leer ken en hul #460 WC3 Print Crowd Toyota Run X RSi 1.8 op die plaas parkeer met gebreekte voorvering. Hierdie Run X is nou beskikbaar sou daar voornemende tydrenners belangstel want die Williams broers het ‘n haastige VW Polo 2.0 in aanbou vir die nuwe jaar.
Tot hul verrassing was daar reeds ‘n gekuier aan die gang want Span Squamata Namibië het juis hul Peugeot “koffie bus” hier parkeer en gou was die atmosfeer goed met Peer Röhm, Jolene Röhm, Pieter Steyn en Wesley Smal so goed dat Pierre en Wynand du Plessis twee keer (SS2 en SS4) gefaal het om die 90 regs voor die gaste suksesvol te voltooi. Inteendeel die vraag is gevra of Pierre weet waar regs is – en sy antwoord was eenvoudig dat die oranje Corolla niks wou weet van regs draai nie.
Gareth Vernon en Marius Rudolph moes ondanks hul versigte benadering die #459 WC2 acciDent Guru BMW E36 2.8 onttrek in SS2 met gebreekte agter skokbrekers terwyl Terry Croy en Jayden-Ryle Hendricks hul #448 WC4 Toyota Corolla RXi 1.6 moes onttrek met enjin probleme. Dane Sasman en Logan Hodges het gevorder tot die volgende instruksie voordat hul #481 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 met ‘n gebreekte dryfas onklaar geraak het en die Peugeot “koffie” bus moes hul terug sleep tot by die Spiegelkraal opstal.
Die Koekemoer kombinasie wen die 11.71km Alexanderskloof SS3 terwyl Owen Jones en Aden Bredekamp die krane begin oopdraai het in hul #454 WC1 Somerset Wes Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 om SS4 oortuigend te wen, maar ‘n twee minute straftyd sou hul uitendelik beperk tot vyfde plek in plaas van tweede. Hul het darem nog heel vriendelik teenoor mekaar opgetree by die prysuitdeling!
Bestendigheid het voordele en Keenan Sasman en Carl Peskin jaag foutloos in die #413 WC1 Howard Centre Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 om ‘n baie goeie tweede posisie in te neem met Shaun Jones en Jonathan Bright derde op debuut in die herboude #424 WC1 Advanced Asphalting Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Shaun duidelik ongelukkig met die motor wat eenvoudig nie genoeg krag gelewer het nie.
Inus du Plessis en Kesevan Naidoo behandel hul eie senuwees goed onderweg na vierde plek in die #461 WC2 Coastal Tool Hire BMW E36 3.3 terwyl Paul van Wyk en Herman Mathee tevrede was met sesde plek in die aantreklike #469 WC1 acciDent Guru Audi S3 1.8 Turbo 4×4. Die kombinasie het nou begin toor aan die motor om beter kraglewering te bewerkstellig, maar soos hul te kenne gegee het – nou breek goed!
Trevor Hodges en Ian Thebus het skewe agterwiel en al steeds daarin geslaag om klas WC3 te wen onderweg na sewende plek in die #421 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0. Die feit dat hul vernaamste teenstanders beide baie tyd verloor het met papwiele het gehelp en ondanks twee aanskoulike tolslae bring Pierre en Wynand du Plessis die #488 WC3 Du Plessis Auto Toyota Corolla RXi 1.8 veilig tuis in die agtste plek algeheel. André en Jody Cleenwerck negende in die #414 We Buy Spares VW Polo 2.0, 28 sekondes na die Toyota.
Tiende algeheel en eerste in Klas WC4 was besonders bevredigend vir Johann en Petra Zulch (egpaar) in die #439 WC4 Ceres Toyota Ford Escort 1600 Sport. Na 39 jaar moet dit as ‘n kompliment beskou word wanneer ‘n 1980 vergasser 1600 Kent Ford Escort steeds danksy onberispelike voorbereiding en ‘n ewigdurige passie steeds in die “modern” era met sukses benut kan word in baie strawwe omstandighede. En die enigste Ford in die Rola Ford Caledon Tydren wen sy klas!
Die finale span tuis oudergewoonte die #409 WC3 Liewe Lulu VW Golf III GTi 2.0 van Julian Calvert en Nick Knights. Goed om soveel “ou” gesigte tydens die byeenkoms te sien met die ou kombinasie van Berto Mostert en John Copeland baie spesiaal. Hugh Young is duidelik nie meer so jonk, maar sy gees is steeds goed en Johannes “Blasie” Franken het sy opwagting gemaak op ‘n motorfiets. Ander wat raak gesien is het ingesluit Mareli Esterhuizen, Leendert Cronjé en Elzaan Mostert. Natuurlik groot dankie aan ieder en elk agter die skerms wat tydrenne moontlik maa ken al die individuele borge en grond eienaars wat die sport ondersteun.
Die byeenkoms is afgesluit met ‘n aangename prysuideling by die Jongensklip Skool en met die belofte van heelparty nuwe kombinasies in aanbou vir die 2027 seisoen is die 2026 seisoen nou eintlik te vroeg voltooi in die Wes Kaap.
Gepubliseer deur: Patrick Vermaak
Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.




















