Select Page

Enige sport se waarde word gemeet aan die mense wat daarin betrokke is en dit is gewoonlik vrywilligers wat ure van hul eie tyd – en geld – opoffer om byeenkomste suksesvol aan te bied.


Van heinde en vêrre het spanne na die Kaap getrek vir die openingsrondte van die SA Tydrenkampioenskap, iets wat natuurlik elke tydren entoesias in die Wes Kaap se aandag getrek het. Oudergewoonte was daar dieselfde klein groepie wat agter die skerms alles in hul vermoë gedoen het om die tydren vlot te laat loop en voodat iemand werklik tot verhaal kon kom het Vrydag 24 April 2026 aangebreek.


Dokumentasie en verkenning het kort op mekaar gevolg terwyl die onderskeie spanne vir oulaas alles ‘n 100ste keer nagegaan het. Die Werf het goed gelyk met ‘n total van 33 spanne teenwoordig en daar was weer ‘n aangename atmosfeer te bespeur – iets wat die tydrensport werklik uniek maak sonder dat enigeen dit werklik kan definieer.


Inus du Plessis en Werner Koekemoer het mekaar “vriendelik” in die oë gekyk om die BMW uitdaging realiteit te maak terwyl die teenwoordigheid van Shane Williams na negentien jaar steeds ‘n sielkundige effek op elke plaashek gehad het.


Kort voor lank is elkeen in sy eie rigting om die aksie op die grondpaaie van die Riebeek Kasteel distrik te gaan aanskou. Drie gewilde sneltrajekte, bekend as vinnig en vloeiend, met hier en daar ‘n meer tegniese uitdaging om almal eerlki te hou sou die groot aantal toeskouers teenwoordig groot genot verskaf.


En die toeskouers is nie net daar om hul gunsteling vervaardiger en / of bestuurder te ondersteun nie – oor die algemeen is die toeskouers besonder goed ingelig met jarelange teenwoordigheid en betrokkenheid. Ongetwyfeld sal jy met elke trajek iemand raakloop wat jy lanklaas gesien het en daar is nooit genoeg tyd om met almal te gesels.


En natuurlik is daar die grondeienaars. In die Kaap is dit nie net ‘n kwessie van die goedkeuring om op hul grond mee te ding nie – hierdie mense raak betrokke deur die omgewing se vriende bymekaar te roep vir ‘n ontbyt wat later middagete word terwyl daar met opregte belangstelling tydren gekyk word.


Nog meer indrukwekkend is die areas waar die grondeienaar spesiale seksies bou op sy grond sodat die werkers, skoolkinders en familie die aksie kan geniet terwyl hy self op die lande werk want dit is plant seisoen en dae word vinnig korter. Middelpos, Grasrug of Nooiensdam – daar is vele meer!


Dit is aspekte wat min bewus is van, maar wonderlik om dit saam met die mense te ervaar gedurende die dag. Hul besef die sport kan probleme ondervind en dinge kan (en sal waarskynlik) verkeerd loop – dit is ‘n sport, maar nooit ‘n speletjie ….
00 Ridwaan Nordien en Emile Assure vervul ‘n baie belangrike funksie op die roete, ‘n uur voordat die aksie begin. Hul sien nie veel van die tydren, maar sonder hulle is daar nie ‘n tydren – so ook 0 Ian Long en Brian Hoskins as die laaste Skakel voordat die tydrenners kan ore plat trek. Sweep moet sorg dat die roete weer benut kan word en Ivan May en Wilanie van Rooyen het nie enige grasietyd gehad voordat elke trajek herhaal moes word nie. En dan die Arrowing en Pick-Up span. Niemand weet van hulle want hul is eerste op elke trajek en laaste terug. Hul sien niemand wegtrek en almal is al bykans oppad huistoe wanneer hul dag klaarmaak.


Vrydag het gekom en gegaan en Saterdag was dit weer so, onsigbaar, maar onmisbaar!


Vir julle onbaatsugtige bydrae met elke byeenkoms – DANKIE!

Gepubliseer deur: Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.