Select Page

Die getalle was regtig min en verskeie sleutel name het ontbreek, maar die atmosfeer en weer was puik op Saterdag 7 Februarie 2026 en daar word ‘n paar interessante nuwe prestasies behaal. Twintig wedrenne, almal nou oor 8 rondes het die program vlot laat verloop met Matthew Deuse welverdiend die Deelnemer van die Dag!


Cadiz BMW CCCT 2×8 rondes
Met Cadiz Management nou onder die Spirit Investment sambreel is dit goed om die nuwe titelborg te verwelkom as deel van die Killarney familie en het die reeks van meet af weer goeie belofte getoon in beide getalle en aksie.


Nian du Toit het gesorg dat sy span goed inoefen vir Saterdag se aksie deurdat sy #20D NDT Racing BMW E36 328i 3.0 “in huis” beskadig is en daar behoorlik gestoei moes word om die slaggereed te kry. Nie dat dit Saterdag enigsins gelyk het of daar iets skort nie want algehele oorwinning in ‘n klas D motor tel as besonders wanneer die opposisie in ag geneem word. Werklik ‘n plesier om te aanskou wanneer bestuurder en motor mekaar sigbaar “verstaan”.


Tweede plek algeheel aan Weylin Volschenk in sy nuwe vlamgooier, #52F AMC-SA BMW E46 M3 Turbo, met Baby Jacobs derde in sy #42C Executive Decisions BMW M3. Daar is egter hard gewerk vir hierdie posisie en Dexter Bruce het indruk gemaak onderweg na vierde plek in sy #143D Tracktion BMW E82 1M. Dillon Joubert neem vyfde posisie in met die blou #44D Powder Coating World BMW E36 en die top ses word afgerond deur Ernest Page in die #19E CRA Racing BMW E36 328i 3.0.


Arno Michels sewende in sy #911E Alkom Tool & Die BMW E36 328i 3.0 en hy is gevolg deur Mark Gray in sy #8F Uncommon Trading BMW E46 3.0. Sean Teubes het die negende posisie ingeneem met die #33D RGBC BMW E36 328i 3.0 en tiende was dit Lloyd Brady in die #41E Schildkrote Racing BMW E90 330i.


Vir Sebastian Swanepoel en Johan Koekemoer was ‘n eerste ontmoeting op die renbaan in die vooruitsig en Sebastian het goed presteer met 11de algeheel terwyl Johan se debuut ongelukkig uitgestel moes word nadat sy motor twee keer die koppakstuk geblaas het in die week voor die ren.


Met ‘n potensiaal van 40 motors op register groei die plaaslike BMW reeks steeds in gewildheid end it is veral klas F wat toeskouer belangstelling uitlok.


Pirelli STC650 en SSP300 Motorfietse 2×8 rondes
Slade van Niekerk maak sy terugkeer tot die 650cc kategorie en domineer soos van ouds op die #96 Project Sixty Kawasaki ER650 met Max Munto tweede op sy #14 Mag Workshop Kawasaki ER650 en Abigail Bosson derde op haar #51 Project Sixty Racing Kawasaki ER650. Adrian Solomon (#4 The Pool King Kawasaki ER650) vierde, Hilton Redelinghuys (#34 Eighty 7 Racing Kawasaki ER650) vyfde en Lance Jonas (#83 Samurai Racing Yamaha MT07) sesde.


James Luyt wen die SSP300 kategorie op sy #74 RSRA Kawasaki Ninja 400 met Bradley Mustoe op sy hakke in die tweede posisie met die #7 CCHSA KTM RC390.


Warwick Wealth Sport & GT Motors 2×8 rondes
Bekend as die beleggings spesialiste is Warwick Wealth sekerlik in die regte geselskap as titelborg van die Sport en GT kategorie waar daar met groot afwagting uitgesien is na die debuut van Dawie Joubert in die ex-Nick Adcock #18 Le Joubert Racing Nova Proto NP02 met V8 Ford Coyote aandrywing. Nouja maak die oë toe en jy sal Emerson Fittipaldi kan hoor aankom in die JPS Lotus 72D want die kleurskema is feitlik identies. Sekerelik een van die mees ikoniese kleurskemas ooit in motorsport.


Dawie Joubert plaas deurgaans groot druk op Gary Kieswetter en die #43S Advanced Packaging Technology Ginetta LMP2 G57 tol uit Castrol (Draai 2) om die #18S Le Joubert Nova gemaklik algeheel te laat wen met Kieswetter tweede. Hy het as troosprys die tweede uitdun gewen. Dawie slaag egter daarin om met 1min08.799 die vinnigste rondetyd van die byeenkoms op te stel.


Divan Wentzel derde in die Keith Fourie #48 SSB Transport Porsche GT3 Cup en in die vierde plek is dit Robert Franco in die #61 GSW Audi R8 GT3. Martin Pugh bly uit die moeilikheid en word beloon met vyfde in die #21 Shelby Can Am en in die sesde plek is dit ‘n besadigde Connor Kilbride in sy #70X Spirit Invest BMW M3.


Yanni Hatzi het sy #28B Nissan Sylvia S14 Turbo as tydrenmotor aangewend in Pertamina Fastron en baie tyd verloor terwyl Wayne Hoffman aansienlik meer skade gedoen het aan sy #27 Hoffman Property Group Porsche GT3 Cup deur die berugte Damps Dip spermuur aan die binnekant van die baan op te soek. Simeon Penev moes ook onttrek met sy #77C Nissan 350Z gehul in ‘n private rookskerm.


Pirelli Clubman, Klassiek en Ontbyt Motorfietse 2×8 rondes
Wesley Hendricks het regtig goed gejaag om die eerste plek algeheel in te neem op sy #55 Auto Bodyworks Kawasaki ZX6R, maar die dag het behoort aan Matthew Deuse in die tweede plek met sy #20 Motorwise Kawasaki ZX10R. Terug nadat hy sy linkerbeen verloor het slaag hy daarin om die eerste uitdun te wen!


Die eerste persoon om ‘n motorfiets wedren wen met ‘n prostese op die Killarney renbaan. Steve Hallett het almal se respek gewen deur met net die gebruik van sy linkerarm aan wedrenne deel te neem, maar Deuse bewys dat die onmoontlike tog binne bereik is van die wat nooit ophou glo!


Geen twyfel oor die as die Deelnemer van die Dag aangewys is nie.


Malcolm Govender derde op sy #6 BMW S1000RR met Augustin Ntwan vierde op sy #43 Yamaha YZF R1 en Shakier Brenner vyfde op sy #13 Suzuki GSXR1000. Die top ses afgerond deur Saud Adams op die eerste Breakfast Run inskrywing, die #66 Honda CBR600RR. Byron Arendse sewende op sy BR #25 Kawasaki ZX10R.


Die groot man, William Morries, agtste op sy #24 MB Aircon Suzuki GSXR1000, Hennie Schelhose negende op sy BR #97 Honda CBR600RR en die top tien afgerond deur Jordan Saayman.


Thermo Fires Clubman Sedanmotors 2×8 rondes
Wat ‘n voorreg as die hoofborg van die reeks, Steven Gouws, daarin slaag om ‘n uitdun te wen in sy #34B Thermo Fires VW Jetta Cli 2.0 Turbo. En hy was slegs 0.362 sekondes voor die indrukwekkende #43X N2 Towing BMW E36 328i 3.0 van Zack Groenewald. Die kleinste wen gaping van die dag en nog meer besonders die feit dat Groenewald van agter moes wegspring.


Algeheel net te sterk slaag Zack Groenewald om eerste algeheel te eindig met Dexter Bruce tweede in sy #146C Tracktion BMW E36 3.0 en die podium word afgerond deur Shane du Toit in sy haastige #112A VW Golf MkI 2.0 FSi. Paul Munnik hou hom eerlik in die vierde plek met sy #79B Audi VW Auto Clinic VW Golf MkI 2.0 met Dillon Joubert vyfde in sy #1 Powder Coating World BMW E46 330i. Shane Justus sesde op debuut in sy nuwe #69X AutoPro VW Golf MkI 2.0.


André Fourie sewende in sy #16X Phoenix Race Worx VW Golf 2.0 en in die agtste plek is dit David Vermaak in sy #27D AbsorbitAll BMW E36 M3. Adrian Roberts negende in die #145F Tracktion VW Polo 6 en tiende is dit André Johnson in sy unieke #8X Executive Decisions Audi.


Twee motors wat altyd die oog trek is die kollosale #123E Huguenot Vallei Minerale Water Chrysler C300 van André van der Merwe en die baie duidelike #651E New Engineering Ford Falcon van Evert du Toit. Nie die vinnigste op die baan, maar beslis ‘n handvol vir die bestuurders en plesier om te aanskou. Die #8 Executive Decisions Audi van André Johnson wen egter wanneer unieke klank op die baan in ag geneem word.


Bejo Trustees Formule Libre 2×8 rondes
Met gerugte van tot agttien nuwe MS4 enkelsitplek renmotors vir die openingsronde van die Extreme Festival by Killarney in Maart was die Bejo Trustees Formule Libre getalle dalk nie heeltemaal so indrukwekkend.


Damian White benut die geleentheid om ‘n algehele oorwinning vir die dag agter sy #29C Draken Racing FGTi Ray te skryf met Joshua Smit tweede in die #83V S&S Racing Rhema 2 FV en in die derde plek was dit Benjack Phillips in die #17V Classic Car Care Lantis Fv met Eudrich Huysamen in sy #44V Chilli Racing Team Lantis FV vyfde. Die top ses afgerond deur Donovan Ramsay in sy #95V Kerston Foods Rhema FV.


Laude Klassieke Renmotors 2×8 rondes
Boetie van Zyl jaag puik om die eerste Ford Fairmont GT oorwinning ooit op Killarney te behaal vir Namakwaland. Franco Donadio het gehelp deur die dominante #32A Donadio Plant Hire Chev Can Am V8 met ‘n olielek te onttrek in die tweede uitdun.


Jarryd Evans het die netjiese #414A Cape Eye Laser Ford Capri V6 3.4 tweede oor die lyn gestuur met Brian Evans derde in die haastige #441B Cape Eye Laser Ford Escort Mk1 en daardie ongelooflik vinnige #77B Toyota Corolla Sprinter van Bruce Avern-Taplin vierde. Wayne Lotter het sy netjiese #120C Lotspeed Ford Escort MkI vyfde tuisgebring met die top ses voltooi deur Dave Alhadeff in sy #95B Intellibus BMW E30 325iS.


Sewende plek het behoort aan Robert Rowe in sy #11D BMW E30 325i en hy is gevolg deur die nuwe #25X BMW E30 325 van Ernst Viljoen Jnr. Pragtig om die drie E30 motors so na aan mekaar op die baan te sien.


Hopenlik keer die gereelde groot kanonne binnekort weer terug. Michael Hitchcock in proses om ‘n nuwe Ford Mustang Fastback vir later in die jaar en het intussen sy oog ingehou deur Goud te verwerf in ‘n ELD skiet kompetisie – waar mens ‘n sateliet nodig het om die teikens mee op te spoor……


Na ‘n 38 jaar loopbaan het Dave Köpke afskeid geneem van die legendariese #23 Mazda R100, maar die goeie nuus is dat die lastige klein motor binnekort sal terugkeer in die hande van Danie Sandenbergh Snr. Nietemin om Dave in persoon teenwoordig te sien by die baan.


Pirelli SBK – SBK Uitdaging – Meesters – 600cc Motorfietse 2×8 rondes
Tristin Pienaar domineer die SBK kategorie op sy #50 Missile Motorcycles Honda CBR1000RR desondanks die feit dat hy sterk opposisie teenwoordig gehad het. Ronald Slamet tweede algeheel op sy #68 RSRA Yamaha R1 met Allan Jon Venter derde op die #39 TruVine / Vault Markets Kawasaki ZX10R. Malcolm Rapson vierde op die #46 Racebase Suzuki GSXR1000 met Eeden Heyns vyfde op sy #82 BMW S1000RR. Die top ses afgerond deur Mark van den Berg op sy #96 GFP Superbikes Kawasaki ZX10R.


Zander Taljaard wen die 600c kategorie oortuigend op sy #88 TMS Suzuki GSXR750 met Francois Kritzinger tweede op sy #77 Suzuki GSXR750. Die SBK Uitdaging word gewen deur Daniel Frost op sy #28 CHW Design Honda CBR1000 met Wayne Arendse tweede op die #33 EVA Kawasaki ZX10R en Michael du Toit derde op die #99 Quickpos Yamaha R1.


API Property GTi Uitdaging 2×8 rondes
Schalk Geldenhuys wen maklik in die #10A Goeie Hoop Onderdele VW Polo 6 met Tate Bishop tweede in sy nuwe #94A Angri Racing VW Polo Sedan.


Danie Sandenbergh derde algeheel in sy #49B Eikestad Panel Beaters VW Polo 6 met Mohammed Khalfey vierde in sy #14 Mad Performance VW Polo 6. Shaun Liebenberg vyfde in die #75B Liebentech Wine Service VW Polo 6 en Adriano Ferroli vier sy toetrede tot klas B met sesde algeheel in die kleurryke #4 Ferroli Performance Centre VW Polo 6.


Ryan van Eden wen klas C in die #28C VW Claremont Citi Golf MkI 1.8 en hy word gevolg deur Devon Dreyer in die #68c API Property Group Citi Golf MkI 1.8. John Smith derde in sy #66 SFX – Stunt Inc Citi Golf MkI 1.8. André Roe vierde in sy soortgelyke #70C inskrywing ( met of sonder die viool ) en hy is gevolg deur Zubayr Robinson (#38C Cool Touch Racing) en Patrick Walton (#96C ShootAway productions).


Pro Oils LP Supermotors 2×8 rondes
Glen Phillips wen gemaklik in die #1 Pro Oil motor met Kyle Hallick tweede in sy #31 Pro Oil inskrywing en in die derde plek was dit Brad Fenner in sy #9 Pro Oil motor. Podium dominasie vir die reeksborg seker die perfekte begin vir die nuwe seisoen.


Pierre Pienaar vierde in sy #7 Lime Property Management motor met Leon Chetty vyfde in sy #15 Lime Property Management inskrywing. Die top ses afgerond deur Richard Lovett in die #8 Opel Supercar.


Volgende wedren
Extreme Festival Ronde 1 Killarney – 7 Maart 2026

Gepubliseer deur Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.