Select Page

Gebore en getoë in Windhoek, Suid Wes Afrika, was sy gunsteling sport aanvanklik sokker, maar as werktuigkundige by Harries Ford in Walvisbaai het Jürgen Graf zu Bentheim ontdek dat hy motors effektief kon ombou en selfs meer vernuftig bestuur.

Die ontdekkingstog het begin met ‘n Ford Cortina MkII en dit word gou opgevolg met ‘n Ford Escort MkI wat met ‘n V6 enjin en bykans oormatig groote renbande toegerus is.

Gou het hy die dominante faktor geraak by die Swakopmund soutbaan waar hy en Llewellyn Anthony teen mekaar begin meeding het vanaf 1976 en later ook op die Tony Rust renbaan buite Windhoek.

As mede eienaar van Novel Ford het hy vinnig ‘n baie goeie reputasie as suksesvolle besigheidsman en sportman opgebou. Getroud met Margarete het die egpaar drie dogters, Simoné Claudia en Bianca, ryker geword en later verhuis na die Paarl waar takke van Novel Ford in die Paarl en Malmesbury gevestig is.
Jürgen het vele plaaslike deelnemers ondersteun onder die Novel Ford vaandel en die beskeie besigheidsman was ook ‘n gewilde en gedugte renjaer in eie reg. Vir plaaslike motorsport was hy die die blou ovaal se maatstaf in motors wat altyd indrukwekkend was in verrigting.

Graf in Duits is die ekwivalent van Engels se Earl en dit is gepas dat hierdie “edelman” uiteindelik kon “aftree” en “uittree” op die pragtige Kronenburg landgoed net buite Paarl.
Dit was ‘n voorreg om jou te ken.

Tot weersiens

Gepubliseer deur: Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.