Select Page

Daar was weliswaar dertien jaar verskil, maar die feit dat Johannes Jacobus Uys op dieselfde dag as legendariese Elvis Aaron Presley gebore is was iets wat Johan almal graag aan herinner het.


Johan het homself as Mediese Tegnoloog gekwalifiseer, maar sy voorliefde vir rekenaar wetenskap het gegroei tot sy eie besigheid en toe dit nie genoeg was nie het hy as Lektor sy kennis gedeel met studente by die Kaapstad Tegnikon.
Tydrenne het rondom 1972 omgeskakel na die huidige sneltrajek formaat en Johan was instrumenteel in die aanpassings wat die organiseerders moes maak om resultate akkuraat en vinnig te lewer.


Daar was geen internet of faks fasiliteite en die enkele “matrix” resultaat het teen die muur verskyn met elke tydren prystuitdeling en sowat ‘n week later het elke span eers hul resultaat opsomming per geregistreerde pos ontvang. (Ongelooflik soos dit mag klink was die Poskantoor effektief en betroubaar).


Sy skerp rekenaarbrein het hom ook gewild gemaak as navigator en Dirkie Boonstra was een van die eerste bestuurders wat hierdie kennis goed benut het in die BEC Alfa Romeo Guilia 2.0, gevolg deur die haastige Toyota Corolla SR5 1600 en die “handvol” Mazda RX2 Wankel. Ongelukkig om nie die WP kampioenskap te verwerf nie.


Owen Ashley (dieselfde een wat uiteindelik Toyota SA Motorsport spanbestuurder sou word en onder andere die Wesbank Opel Astra en Calibra Turbo, die Opel Supercars, die V8 Masters APV 347is reeks en die Ashley FGTi sou skep) het ook ‘n voorliefde vir tydrenne gehad as bestuurder met Johan Uys die navigator in sy eie Alfa Romeo Guilia 2.0.


Jong talent Nic de Waal (jonger broer van Nissan Motorsport Spanbestuurder Pieter de Waal) het met Johan as navigator tydrenne aangedurf in ‘n haastige Datsun 160Y, maar die motor het nie lank gehou nie en hul het omgeskakel na ‘n beproefe Datsun P510 1600 SSS totdat die tydens hul hoofborg, Roode-Lyon, se eie tydren skouspelagtig gerol is.


Die ex-Owen Ashley 2.0 Alfa Romeo aangedrewe Ford Escort MkI is nader getrek en laaste deelname was die Protea Internasionale Tydren 1980. Johan het ook rigting aangedui vir besoekende Suid Wes Afrika (nou Namibië) bestuurder Uwe Molzahn in sy Ford Escort MkII tydens die Overberg Herfstydren. Met geleentheid het hy ook langs Bruce Anderson-Terry ingeskuif met die Alfa Romeo Bertone Sprint 2.0.


Johan het klem verskuif en sy waardevolle hulp aangebied om die gewilde Blinde Navigators Tydrenkampioenskap se tydhouding en resultate elektronies te verwerk en tesame met sy vrou, Corrie, het hul onmisbaar geword in die reeks.
Christo Vorster het in 1976 sy tweede blinde navigators tydren as rigtingwyser vir Johan Uys algeheel gewen en die vriendskap was geseël.


Johan en sy eerste vrou Ria was geseën met twee pragtige dogter en hy het drie seuns Ryker geword in sy tweede huwelik (17 November 2007 – 19 jaar) met Corrie.

Gepubliseer deur Patrick Vermaak

Wit en swart fotografie deur: Kees van de Coolwijk


MY HERHINNERINGE AAN JOHAN UYS (GESKRYF DEUR CHRISTO VORSTER)

Soos so baie bekende skrywers dit sou stel, ‘n groot boom het geval, met Johan Uys se heengaan op Maandag, 20 April 2026.

Ek het Johan ontmoet toe ek my tweede tydren gery het as navigator. Ek was bevoorreg om gedurende 1976 saam met hom te kon ry. Ons was ook gelukkig genoeg om daardie spesifieke tydren, gehou vanaf die Kilarney renbaan, met ‘n punte totaal van 476 te kon wen.

Volgens die rekords wat ek tot my beskikking het, het Johan in 1974, saam met J Britz aan sy eerste tydren deel geneem. Sy laaste tydren, waarin hy bestuur het, was saam met Christine Coffee (Watkins), in 1987.

Nadat ek in 1990 weer begin deelneem het aan die tydrenne hier in die Weskaap, het ek Johan sporadies by die Kilarney tydrenne raakgeloop.

Ek onthou Johan as iemand wat, altyd, ‘n vriendelike woord, vir almal gehad het. Hy was geweldig toegewyd aan dit wat hy gedoen het. Of dit as tydren bestuurder, tellinghouer of net mens was, Johan het altyd tyd gemaak om met elkeen wat hy teen kom, ‘n paar woorde te gesels.

As ek ‘n afleiding uit die dokumentasie wat ek op ‘n stadium vanaf Corrie ontvang het, moet maak, het sy en Johan in 2012 as amptelike tellinghouers namens SARRA begin optree. Die laaste registrasie-vorms wat ek gesien het, is gedurende 2024 voltooi.

Johan is beslis iemand wat ons ongelooflik gaan mis. Vandat hy begin siek word, het hy minder en minder gesels. Hy het egter, soos klokslag, by die tydrenne, en dan verwys ek nie net na die tydrenne in die Kaap nie, maar alle tydrenne vir blindes, wat in die Weskaap aangebied is, die tellings kom bereken.

Johan was beslis die soort mens wat, as hy ‘n berekening gedoen het, dit korrek gedoen het.

Ek sluit af met die woorde: “Johan, jy het vir ons almal wat die voorreg gehad het om met jou te meng, die lewe ‘n beter plek gemaak. Dankie vir al jou vriendelikheid en ons gaan jou mis.

Vir jou Corrie, baie sterkte vir jou in hierdie dae. Ons het wel een troos. Johan is nou in die beste plek waar hy moontlik kan wees. Sterkte vir jou, en die hele familie. Ek weet die Liewe Vader sal sy hand vol versterking oor julle hou.