Select Page

Die Kaap van storms het die twaalf spanne ingewag in die Swartland vir die Malmesbury Tydren op Saterdag 5 September 2026. Vragmotors het omgewaai en Du Toitskloof is gesluit met die enigste positief dat stof nie ‘n probleem sou wees vir die tydrenners nie.
Vier spanne moes noodgedwonge onttrek aan die byeenkoms nog voordat hul die wegspring kon haal. Pierre en Wynand du Plessis het herstelwerk aan die brandstoftenk van hul #488 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla RXi 1.8 laat doen, net om op die vooraand van die tydren te ontdek dat die tenk nou eers ernstig lek.


Warren Scholtz en David Stigling sou beslis aan een van die gunsteling kombinasies wegspring, maar hul het die #444 WC1 Dynamic Plant Hire Subaru Impreza WRX Sti 2.0 Turbo 4×4 onttrek nadat Warren klein operasie moes ondergaan en vir twee weke buite aksie sal wees. En so ook die soortgelyke #314 WC1 Howard Centre Motors Subaru van Keenan Sassman en Carl Peskin nadat die enjin ‘n klep ingesluk het Woensdagaand. Ismaeel Davids en Yusuf Ganief ook nie teenwoordig in hul #431 WC1 ID Paving Toyota Run X S2000 4×4.


Owen Jones en Jody Cleenwerck die enigste Subaru om die twee BMW spanne in toom te hou en die #454 WC1 Somerset Wes Subaru Impreza WRX STi 2.0 Turbo 4×4 sou getoets word. Werner Koekemoer en Matt Köhler het hul visier net op eerste plek in die #474 WC2 Valuecrete BMW E36 3.2 en op hul beurt het Inus du Plessis en Piet Carinus geen planne om na hul te eindig in die #461 WC2 Coastal Hire BMW E36 3.0.


Sneltrajek een lewer egter klaar drama met die #474 WC2 Valuecrete BMW wat sneuwel met ‘n gebreekte skokbreker nadat ‘n regs 7 die BMW tydelik in ‘n ploeg omskep het. Die #460 WC3 Toyota Run X RSi 1.8 van die Williams broers, Shane en Rob, het die trajek einde in stilswye genader nadat Shane daarin geslaag het om homself bang te ry. Niemand het nog vir Rob gevra hoe hy voel nie…..


Die #410 WC4 KMS Motor Trimmers Toyota Corolla RXi 1.6 van Kesevan en Seth Naidoo bereik ook die einde van die trajek met tekens van ‘n onbeplande ekskursie. Hul tydren verby met veringskade. Trevor Hodges en Ian Thebus word aanvanklik as die vinnigste kombinasie aangewys in die #421 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0, maar na die tweede probeerslag van dieselfde sneltrajek het hul na derde plek afgeskuif.


Shane en Rob Williams vergeet heeltemaal waarvoor die rempedaal en rathefboom in die Run X bestaan en skuif in die tweede plek in, nou 38 sekondes agter die #461 WC2 BMW van Inus du Plessis en Piet Carinus. Laasgenoemde nou bloot nodig om rustig te ry vir algehele oorwinning want Owen Jones en Jody Cleenwerck het duidelik ook moeilikheid in die #454 Subaru gehad en was na twee trajekte laaste in die veld met geen linker voorvering.


Inus du Plessis en Piet Carinus gemaklike voorlopers na drie trajekte in die BMW met Shane en Rob Williams steeds vasberade in tweede met die Run X en Trevor Hodges en Ian Thebus wat goed vasbyt in derde met die VW Polo. Paul van Wyk en Herman Mathee skuif op na vierde in die #469 WC3 acciDent Guru VW Polo 2.0 met Jacques du Plessis en Juhani van Zyl vyfde in hul #453 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Conquest RSi 1.8.


Dane Sasman en Logan Hodges sewende in hul #481 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 met Justin Engle en Matthew Neethling wat terugsak na agtste plek in die #445 WC3 Toyota Corolla RXi 1.8. Julian Calvert en Nick Knights negende in die #409 WC3 VW Golf GTi MkIII 2.0 en die top tien afgerond deur die gewonde Subaru van Owen Jones en Jody Cleenwerck. Die Subaru steeds sonder linker voor vering.


Met drie trajekte oor het Inus du Plessis na die gemaklike wenner gelyk met Shane Williams en Trevor Hodges in stryd gewikkel om die tweede plek. Toestande was steeds warm en sterk wind het gelukkig die stof tot minimum beperk tussen motors.
Met een trajek uitstaande was die fokus op Paul van Wyk en Jacques du Plessis. Die Toyota bestuurder het oudergewoonte alles in die stryd gewerp vir die tweede helfte van die tydren en het 25 sekondes nodig gehad in die sede en finale trajek om tot vierde plek te verbeter maar het met tye sonder tweede en vierde rat gejaag.


Dane Sasman en Logan Hodges het sneldeel ses begin met slegs ses sekondes in hand oor die #459 WC2 BMW E36 2.8 van Gareth Vernon en Marius Rudolph en op hul beurt was hul slegs 22 sekondes voor Justin Engle en Matthew Neethling in die #445 WC3 Toyota Corolla RXi 1.8.


Shane en Rob Williams dalk nie in dieselfde liga wat krag betref, maar die Williams broers weet nie hoe om terug te hou nie en daardie #460 WC3 Toyota Run X RSi 1.8 knyp net oë toe deur al die hekke. Jacques du Plessis en Juhani van Zyl self nie skaam in hul #453 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Conquest RSi 1.8, maar het nou gesukkel met rette wat nie altyd beskikbaar was nie.
Inus du Plessis en Piet Carinus wen hul tuis tydren oortuigend en die #461 WC2 Coastal Hire BMW E36 3.0 het net ‘n deeglike was nodig voor die volgende tydren in die Overberg. Inus het hierdie Swartland oorwinning opgedra aan sy broer, Jean.


Shane en Rob Williams het niks raak gery nie, niks gebreek nie en steeds platvoet gejaag om ‘n bemoedigende tweede plek algeheel in te neem met hul #460 WC3 Toyota Run X RSi 1.8 en die stryd in WC3 begin nou werklik goeie momentum kry met verskeie spanne wat hul teenwoordigheid begin vertoon. Trevor Hodges en Ian Thebus derde algeheel in hul netjiese #421 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0 met Paul van Wyk en Herman Mathee vierde, heelwat meer gemaklik in hul #469 WC3 acciDent Guru VW Polo 2.0.


Jacques du Plessis en Juhani van Zyl beslis in staat om sake deurmekaar te krap wanneer die #453 WC3 Du Plessis Auto Toyota Conquest RSi 1.8 al sy ratte het en vyfde was effe fristrerend onder omstandighede. Gareth Vernon en Marius Rudolph sesde in hul #459 WC2 BMW E36 2.8 met Dane Sasman en Logan Hodges sewende in die #481 WC3 The Agents Garage VW Polo 2.0.


Justin Engle en Matthew Neethling ongelukkig om agtste te eindig nadat hul twee plekke moes terugskuif as gevolg van ‘n twee minute straftyd in die #445 WC3 Toyota Corolla RXi 1.8. Julian Calvert en Nick Knights negend in Liwe Lulu, die #409 WC3 Volkswagen Golf MkIII DTi 2.0 en die finale span tuis was Owen Jones en Jody Cleenwerck in die #454 WC1 Somerset Wes Subaru Impreza WRX STi 2.0 4×4. Daardie houtlepels gaan beslis lank onthou word.


Nou volg die Overberg

Gepubliseer deur Patrick Vermaak

Foto’s deur: Marius Knopfler

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.