Met die nadraai van die vloedwaters nog ernstig sigbaar het Saterdag 30 Mei 2026 in pragtige, windstil en sonskyn aangebreek vir ronde 4 van die Lime Property Management Streekrenne op die Killarney Intenasionale Renbaan.
Vrydagaand het egter ‘n lang nag geword vir die onderhoud span nadat Tiaan Burger die eerste bestuurder geword het wat daarin kon slaag om dwarsdeur die spermuur in draai 5 te jaag met sy V8 Masters #29 Burger’s Equipment & Spares APV 347is. Teen nagenoeg 250km/h het die rem pedaal onder Tiaan se voet afgebreek en die swaarder V8 Master het skouspelagtig deur die muur gebars.
Tiaan moes Saterdag ‘n operasie ondergaan aan sy voet en dit gaan ‘n tydjie neem voordat hy weer agter die stuur sal inskuif. Die motor se rolhok integriteit het behoue gebly en ongelooflik soos dit mag klink mag dit dalk herstel word. Serge Damseaux het die neus van die Handelaarspan GpN Toyota Conquest RSi wat hy met Steve Wyndham gedeel het in die Castrol 7 Uur deur dieselfde muur gedruk en ‘n paar wedrenne later het Mark de Nobrega by die eksklusiewe klub aangesluit deur sy Formule GTi Ashley halfpad en agteruit deur dieselfde muur te druk.
Dr Mike Verrier het sy Shelby Can Am baie amper oor die muur laat spring en Dave Köpke het sy nek beseer toe hy die muur met sy remlose Alfa Romeo Sprint aangetree het. Shane Smith voel uitgesluit, maar kom net sovêr as die duikweg muur in die #22 Truckport Logistics BMW E36 Turbo. Nietemin goeie poging, want die oefenrondtes vir die oggend word afgestel om die skade aan die muur te herstel en die dag se renne word tot 7 rondtes elk beperk as gevolg van die verlies aan tyd.
Pirelli SBK – SBK Uitdaging – 600cc Motorfietse
Met die Ilse of Man TT aan die gang was die motorfiets getalle effe ingekort, maar Tristin Pienaar en Kewyn Snyman lewer hul gebruiklike skouspel. Beide kwalifiseer met 1min10 tye Vrydag en dit was Tristin wat Saterdag deurgaans voor jaag met Kewyn Snyman as skaduwee, maar die #50 Missile Motorcycles Honda CBR 1000 loop ‘n 30 sekonde straftyd op die hals nadat hy te vroeg weggespring het in die eerste uitdun.
Kewyn Snyman wen algeheel op die #79 Missile Motorcycles BMW S1000RR met die moedige veteraan, Malcolm Rapson, derde op die #46 Racebase Suzuki GSXR1000. Eeden Heyns bou op sy ervaring met vierde posisie algeheel op die #82 Project 60 Kawasaki ZX10R terwyl Zander Taljaard vyfde algheel eindig op die #88 Suzuki GSXR750. Die Top ses afgerond deur Michael du Toit op sy #99 TWH Bridging Finance Yamaha R1.
Daniël Frost wen die SBK Uitdaging op sy #28 CHW Design Honda CBR1000 met Wayne Arendse tweede op die #33 EVA Kawasaki ZX10R en in die derde plek was dit Shaun MacKrill op die #26 GFP Lighting BMW S1000RR. Lubabalo Ntisana vierde op sy #53 LB Auto Kawasaki ZX10R.
Die enigste insident die ongelukkige Samkelo Liwani wat bykans op presies dieselfde plek as sy vorige ongeluk geval het in draai 5 met die #49 Ezelifu Ltd Yamaha YZF R6. Gelukkig was die skade beperk tot ‘n gebreekte sleutelbeen.
APi Property Group GTi Challenge
Onmoontlik om nie waar te neem dat dinge in klas A nie tans gesond is nie. Shane Williams die enigste “gereelde” inskrywing teenwoordig met die talentvolle Namibiese dame, Nikita Thieme, sy enigste opponent in klas A met haar #50 Plus & Minus VW Polo 6R. Wat egter verrasend was was die feit dat hierdie 19jarige nuweling ‘n werklik ernstig bedreiging was en sy jaag slegs 0.077sekondes na Shane verby die geruite vlag aan die einde van die eerste uitdun. Shane onttrek tydens die opwarmingsrondte van die tweede uitdun en Nikita beland in die sand buite draai 5 gedurende die ren.
Daniël Sandenbergh Jnr en Faizal Jacobs elimineer hulself na ‘n prag stryd op die baan met ‘n 30sek straftyd elk (hul het beide te vroeg weggespring met die aanvang van die tweede uitdun) en dit is Zac Laden wat algeheel seëvier in sy #64 Incledon VW Polo Sedan met Nur Abass tweede in die #8 Spice Mecca VW Polo en Brett Roach derde met sy baie breë #5 Mutual Valet VW Jetta. Adriano Ferroli jaag stil na vierde algeheel in sy #4 Ferroli Performance Centre VW Polo 2.0. Ejaaz Majiet #74 VW Polo en Danie Sandenbergh Snr (#77 Eikestad Paneelkloppers VW Polo) onderskeidelik vyfde en sesde.
Daniël Munna wen klas C in die #33 APi Property VW Golf MkI met Patrick Wheldon tweede in die #97 ShootAway Productions motor en in die derde plek was dit John Smith in die #66 SFX & Stunt Inc weergawe. André Roe vierde in sy #70 DVE Motorsport inskrywing met Connor Joubert vyfde in sy #53 Powder Coating World Golf. Die top ses afgerond deur Tristan Joubert in die #90 Powder Coating World Golf.
Roshan Khan het sy #41 Cooltouch Racing Golf sommer in die eerste draai van die eerste uitdun omgedop en is gevolg deur die #68 APi Property Group Golf van Devon Dreyer. Fotograaf, Colin Brown, kan nog nie besluit wie die meeste punte verdien het nie – maar hy het altwee minstens afgeneem!
Weet nie waarom klas A leeg geloop het nie, maar neem kennis dat Nikita Thieme jul gaan eerlik hou in die toekoms!
Pro Oil Supercars
Daar word aktief gestreef na ‘n nuwe voorkoms en verrigting vir die Owen Ashley Opel Supercar reeks, met Toyota aandrywing en nuwe bakvorm enkele voorstelle. Op die dag was Glen Phillips ongelukkig vroeg reeds uit in die eerste uitdun en Andrew Moffitt toon nuwe talent met sy weergawe van – stoot die muur om! Die #39 Greymo Construction motor op unieke wyse neus eerste teen die spermuur aan die binnekant van die baan – nog voordat dit draai 1 kon aandurf vanuit die kuipe! Maar die beoordeelaars reken die Muurloper podium bly onveranderde met Tiaan Burger – Goud, Shane Smith – Silwer en Andrew Moffitt – Brons.
SALM lid, Pierre Pienaar, teken sy eerste algehele oorwinning aan met die #7 Lime Property Management met Kyle Hallick tweede in die #31 Pro Oil motor en Brad Fenner derde in sy #9 Pro Oil inskrywing. Kirk Williams verras homself met vierde plek in sy #40 Safestop motor en in die vyfde plek volg Richard Lovett in die Opel Motorsport gekleurde #8 inskrywing. Andrew Teheunissen sesde op debuut in die #123 Whirtrix motor.
Kaltron Fine Cars
Roger Lewis bewys weereens dat haas en skilpad teorie meriete het deur as die oorwinnaar uit die stryd te tree met die stadigste motor op die baan vir die dag toe hy op Indeks van Verrigting eerste eindig in sy veteraan #2 MGA 1.6. Melani Lambert tweede in haar #90 VW Jetta Mk1, Arnold Lambert derde in die #61 VW Jetta Mk1, Stephen Whitehead vierde in sy #156 Leyland Mini 1275cc, Natasha Toschendorf vyfde in haar #1 VW Jetta Mk1 en Arnold Lambert sesde in sy #61 VW Jetta Mk1.
Cadiz BMW CCCT Reeks
Connor Kilbride wen algeheel in die #142A Racing Spirit BMW E36 M3, maar toeskouers is beroof van ‘n titaniese stryd toe Nian du Toit aan gesukkel het tydens die eerste uitdun in die #20B Leatt BMW E36 3.0. Dillon Joubert eindig tweede algeheel in die #44C Powder Coating World BMW E36 330i met Nian du Toit derde nadat hy die tweede uitdun kon wen.
Shane Williams verras met vierde plek in sy #146D Print Crowd BMW E36 met Ernest Page vyfde in sy #19D CRA BMW E36. Kobus de Kock bly hierdie keer reguit en behaal sesde plek in sy #77D Interactive Signs BMW E36 met Sean Teubes sewende in die #33D RGBC BMW E36. Yanni Hatzi beindruk met agtste in die #28D BMW E36 en hy word gevolg deur die klas E wenner, Mia Bensch in haar #110E Compact Robotics BMW E36.
Die top tien afgerond deur die klas F wenner, Henry Biddlecombe, in die #42 BMW E36. Een en dertig Beemers het die eerste uitdun begin , vele het straftye gekry vir te vroeg wegspring en nog meer het oral om die baan hul hand gewaag as tydrenners om die twee uitdunne baie aanskoulik te maak. En dit is opvallend hoe mededingend klasse D,E,F is terwyl enkele motors die pas aangee aan die voorpunt. En daar is nog oppad!
Pirelli STC650 en SSP300
Slade van Niekerk tans onstuitbaar op die #96 Projext60 Kawasaki ER6-N met Max Munton die enigste wat naby kom op sy #14 Sunscan Kawasaki ER650. Nicholas Hutchings neem die randsny funksie oor op sy derde geplaasde #72 Kawasaki ER650 met Adrian Solom vierde op die #4 The Pool King Kawasaki ER650, Klint Munton vyfde op sy #12 Sunscan Kawasaki ER650 en die top ses afgerond deur Abigail Bosson op haar #51 Project60 Kawasaki ER650.
Bradley Mustoe wen die SSP300 kategorie algeheel op sy #07 CCHSA KTM RC390 met James Luyt tweede op die #74 RSRA Kawasaki Ninja 400 en Julian Ferreira derde op sy #178 Promar Projects KTM RC390.
Warwick Wealth Sport & GT Motors
Rob Franco wen op debuut in sy nuwe #61A GSW Audi R8 GT3 5.2 met Divan Wentzel tweede in sy nuwe #31A Motul Porsche GT3 Cup en derde algeheel is dit Fabio Tafani in sy #3B Club Refrigeration V8 Master APV 347is. Wayne Hoffman vierde in die ex-Charl Visser #27A Hoffman Property Group Porsche 992 GT3 Cup met Weylin Volschenk vyfde in sy effe makker #52B IMC-SA Porsche GT3 Cup. Deven Pillay sesde algeheel in sy #84D LCLK Porsche GT3 Cup 3.6.
Die uitslag verwys nie na die aksie op die baan want die #4A NDT Racing BMW Z4 7.0 V8 van Dr Mike Verrier het beindruk alvorens dit weer alles afgedraai het. Dit gaan ‘n monster word op die baan. Tate Bishop het die eerste uitdun gewen en sportief van die baan afgejaag met die aanvang van die tweede uitdun met sy #94A Angri Racing Audi R8 LMS GT4. Tate 0 – Angri 1. Josh Broome was Vrydag terug in die indrukwekkende #36 S1 Spitfire Furniture Radical SR8 maar Saterdag was die neus skeef en die motor is onttrek.
Pirelli Clubman – Classic – Breakfast Run Motorfietse
Matthew Deuse beindruk weereens deur beide uitdunne met gemak te wen op sy #20 Motorwise Kawasaki ZX10R. Dit sonder sy linkerbeen!
William Morries, sy enigste bedreiging, het ook ‘n dertig sekonde geskenk ontvang en moes met die tweede plek tevrede wees op #34 MB Aircon Strand Suzuki GSXR1000. Gerhard Joubert derde op sy 600cc Clubman Triumph Daytona 675 emt Wesley Hendricks vierde op sy #55 Ubuntu Movers Kawasaki ZX6R. Saud Adams vyfde op sy #66 Honda CBR600RR en die top ses afgerond deur Lubabalo Ntisana op sy #53 LB Auto Honda CBR600RR.
Mario Ferreira wen die Classic kategorie op sy #44 Promar Projects V-Raptor 1000 en in die Breakfast Run kategorie is dit Quintin Retief, #62 Kawasaki ZX6R, wat voor Michael Bekker op sy aanskoulike #18 KTM SMR990 eindig.
Thermo Fires Clubman Saloons
Jaco Lambert ry eenvoudig onder almal uit met die #29A AL Auto Performance VW Polo 1.8 met Steven Gouws tweede in sy #34A Thermo Fires VW Jetta 3 Turbo. Clint Rennard derde in die Farmtruck #3 G&A Motorsport VW Golf GTi. Gary Smith vierde in die #71B Truckport Logistics BMW E36 met Shane Justus vyfde in sy helder #69B Auto Pro VW Golf Mk1. Die top ses afgerond deur GTi renjaer Schalk Geldenhuys in sy #410X Goeie Hoop Onderdele VW Polo 6.
Sandra Bekker plaas haar #96 Brandtegrity BMW E46 eerste in klas C met Francois van Tonder tweede in sy #44 FOD Marketing VW Polo 6 en Guy Nyenes derde in sy Truckport Logistics BMW E46. Dillon Joubert vierde in sy #1 Powder Coating World BMW E46 330i.
Wayne Rosser wen klas D in sy #95 VW Golf MkII GTi met David Vermaak tweede in sy #27 AbsorbitAll BMW E36 3.0 en Bernard Lehmann derde in die #2 Goch&Cooper Opel Corsa. Quinton Carstens wen klas E in sy #119 Strand Anodising BMW E36 met David Fourie tweede in sy #80 Keigar VW Golf Mk1 en Evert du Toit derde in die #651 New Engineering Ford Falcon. Adam Omar eerste in klas F met sy #24 F&S Transport VW Golf MkI met Craig Agliotti tweede in sy All Day VW Polo Vivo 1.6.
Bejo Trustees Formula Libre
Jason Coetzee en Dee-Jay Booysen domineer in hul Formule VW Reynard motors met Damian White derde in die #29 DraKen Racing Formule GTi Ray.
Die stryd in Formule Vee was egter uitmuntend met heelwat aanskoulike bewegings oral om die baan en dit uiteindelik Joshua Smit wat die eerste plek ingeneem het met sy #83 S&S Racing Rhema met Richard Carr tweede in die #8 ERA Racing Forza en Eudrich Huysamen derde in die #44 Chilli Racing Lantis. Kelly Fletcher moes ook uithaal om haar #22 Dolphin Engineering Forza voor die #69 Richard Carr Racing Rhema van Courtney Steenveld te hou.
Laude Classic Cars
PW Louw se Mazda RX7 lok baie belangstelling uit, maar tans omdat dit feitlik nooit wegspring nie. Danie Sandenbergh het die ex-Dave Köpke Mazda R100 met groot respek hanteer op sy debuut terwyl die tradisionele Ford (6) vs Chev (2) stryd hierdie keer met bietjie hulp vanuit die GM stal in die guns van die ovaal beklink is.
Franco Donadio kon wen soos hy wou, maar die Can Am wou nie! Michael Hitchcock het nie op hom laat wag nie en die #67 Cross Cape Forklift Repairs Ford Mustang Notchback V8 wen algeheel met Mark Uytenbogaardt tweede in die #36A Superior Elevators Ford Fairmont GT350 V8 tweede en Trevor Momberg derde in die #73A All Scale Ford Capri V6 3.4.
Roy Obery vierde algeheel in sy unieke #85X GWM Edenvale Porsche 924 GTP en Eric van der Merwe vyfde in sy haastige #89 Lynx Motorsport Porsche 944T. Die top ses afgerond deur Brian Evans in die haastige #441B Cape Eye Laser Ford Escort Mk1.
Ian Richards tweede in klas B met sy #64 VW Scirocco en derde was dit Ferdi Mouton in die rooi #68 Cross Cape Forklift Services Ford Mustang Notchback V8. Bruce Avern-Taplin vierde in die haastige #77 Toyota Corolla Sprinter 1.8met Robin Forbes vyfde in die #171 Chevrolet Corvette Stingray V8.
Wayne Lötter wen klas C in sy #120 Lotspeed Ford Escort Mk1 met Dave Rowley tweede in sy #148 Flat Four Racing VW Beetle 2.4 en in die derde plek was dit Robert Rowe in sy 11C Veldt Reared BMW E30 325i. Daniël Lötter vierde in sy #14 GlobeLotter Industries Ford escort MkII met Mark Ridgway vyfde in sy #93 Ford Capri V6.
Nicholas Fourie wen klas D in sy #22 VW Golf MkII met Bradley Rowe tweede in die #27 Veldt Reared BMW 2002 Ti en Stephen Manuel derde in sy #62 Nissan Skyline 2.8. Malcolm Pheiffer vierde in die #195 Alfa Romeo Sprint en in die vyfde plek is dit Ernest Leite in die #128 Fiat 128 Rallye 1.3.
Gepubliseer deur Patrick Vermaak
Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.



























