Select Page

Twintig spanne meld aan vir die streekafdeling van die King Price Swartland Tydren op Saterdag 25 April 2026, weereens in puik weersomstandighede. Die klem verskuif egter vanuit die Riebeek Kasteel distrik na die ewe gewilde Swartland distrik.
Wilro Dippenaar en Carolyn Swan ry absoluut op spore en die #77 WC6-4 PZN Paneelkloppers Ford Fiesta R5 1.6T 4×4 oorheers weereens met nog ‘n dominante vertoning. Hopenlik bring Allan Martin volgende keer die R5 J&P Hydraulic Skoda saam om die speelveld meer gelyk te maak.


Owen Jones en Aden Bredekamp het die nag in die werkwinkel deurgebring om alles vanuit Shaun Jones se Subaru oor te bou in die #454 WC1 Somerset West Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 en hul het hul toegewyde span beloon met ‘n goeie vertoning onderweg na tweede algeheel. Geluk by die ongeluk kon Shaun Jones nie die tydren meemaak en kon hul letterlik sy hele motor oorbou om Owen en Aden in staat te stel om Saterdag weer deel te neem.


Werner en Leané Koekemoer het weereens beindruk met ‘n bestendige (nie ‘n term wat maklik in konteks saam met die naam Werner Koekemoer benut word nie) vertoning in die imponerende #474 WC2 Value Crete Readymix BMW E36 3.2. Nie ‘n skrapie aan die motor nie en geen tegniese probleme laat hul vol moed vir die res van die seisoen. Om nie te praat van hierdie klank in die Oos Kaap woude!


Warren Scholtz en David Stigling se vierde plek in die #444 WC1 Dynamic Plant Hire Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4 het ook vergoed vir ‘n baie teleurstellende Vrydag poging. Vyfde plek vir Ismaeel Davids en Yusuf Ganief in die #431 WC1 ID Paving Toyota Yaris GR 1.6 Turbo 4×4 hou positiewe belofte in vir hierdie unieke, plaaslik geboude inskrywing. Nou kan hul werklik begin tap aan die potensiaal van hierdie motor.


Nick Davidson en Ashley Bezuidenhout ‘n bestendige sesde in die #522 WC6-4 Davidson & Sons Volkwagen Polo 2.0 Turbo 4×4 met Keenan Sasman en Ryan Pey sewende in hul #413 WC1 Howard Centre Motors Workshop Subaru Impreza 2.0 Turbo 4×4. Met die voorste ewenaar buite werking moes hul deurgaans jaag met slegs agterwiel aandrywing.


Pierre du Plessis en Wynand du Plessis het goed vertoon in hul #488 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Corolla RXi 1.8 en agtste algeheel was welverdiend vir die pa en seun kombinasie. Trevor Hodges en Ian Thebus negende in die #421 WC3 The Agents Garage Volkswagen Polo 2.0 met Jacques du Plessis en Juhani van Zyl tiende algeheel in hul #453 WC3 Du Plessis Auto Ceres Toyota Tazz 1.8.


Hennie Smit en Albert Hibbert het hul reis vanuit Marble Hall die moeite werd gemaak deur hul #206 WC6-2 Toyota Tazz 1.6 elfde tuis te bring met Julian Calvert en Nicholas Knight twaalfde in Liewe Lulu, die #409 WC3 Volkwagen Golf III GTi 2.0 (oornag toegerus met ‘n nuwe ratkas). Die finale span tuis die #447 WC4 Toyota Corolla RXi 1.6 van Tyler Croy en Jayden-Ryle Hendricks.


Namibiese besoekers Wido Bartsch en Raymond Fourie het weereens nie die eindpunt gehaal in hul #13 WC6-4 Safewear Toyota Yaris 2.0 4×4 S2000 – maar hopenlik sal hul terugkeer om daarvoor te vergoed! Inus du Plessis en Piet Carinus het die natuurskoon van nader besigtig nadat hul #461 WC2 Coastal Hire BMW E36 328i 3.0 ‘n stuurkoppeling gebreek het en die motor eie rigting verkies het.


Paul van Wyk en Herman Mathee amper dankbaar toe hul #469 WC3 acciDent Guru Volkswagen Polo 2.0 ook eie rigting ingeslaan het met gebreekte stuur koppeling. Shane en Rob Williams oudergewoonte skouspelagtig maar ‘n derde enjin het hul tydren kortstondig beeindig in die #460 WC3 Toyota Run X RSi 1.8.


Gareth Vernon en Marius Rudolph het slegs twee trajekte voltooi in hul #459 WC2 BMW E36 328i 2.8 en Juneyed Edas en Matthew Neethling was selfs minder gelukkig toe die enjin van hul #466 WC4 Edas Rallying Toyota Tazz 1.6 reeds in die eerste trajek genoeg geroep het. Dane Sasman en Logan Hodges het lewendig geklink in die #481 WC3 The Agents Garage Volkswagen Polo R6 2.0, maar die enjin het genoeg geroep in die tweede trajek.


Weereens drie gewilde trajekte wat elk herhaal is met puik toeskouer ondersteuning.

Gepubliseer deur: Patrick Vermaak

Motorsport Suid-Afrika (MSA) publiseer mediavrystellings vanaf ’n verskeidenheid bronne op sy webwerf as ’n diens aan die sport. Weens die groot hoeveelheid inhoud is dit nie prakties moontlik om elke vrystelling vooraf te hersien of goed te keur nie. Sekere nuusitems en artikels word deur onafhanklike korrespondente geskryf en weerspieël nie noodwendig die amptelike standpunte of sienings van MSA nie.